JOHANNES 21:15-18

JOHANNES 21:15-18 NLV

Toe hulle klaar ontbyt geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief, meer as hierdies?” Petrus sê vir Jesus: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.” Jesus sê vir hom: “Gaan versorg my lammers.” Jesus vra hom toe ’n tweede keer: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?” “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet,” antwoord Petrus. Jesus sê vir hom: “Wees ’n herder vir my skape.” ’n Derde keer vra Jesus hom: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?” Petrus het hartseer geword omdat Jesus hom ’n derde keer gevra het: “Het jy My lief?” en hy antwoord Jesus: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” Jesus sê vir hom: “Gaan versorg my skape. Ek verseker jou, toe jy nog jonger was, het jy self jou klere vasgegordel en het jy rondgegaan waar jy ook al wou; wanneer jy egter oud is, sal jy jou hande uitstrek en iemand anders sal jou klere vasgordel en jou bring waar jy nie graag sal wil wees nie.”