JOHANNES 20:19-26

JOHANNES 20:19-26 NLV

Gedurende die vroeë aand, op daardie Sondag, terwyl die deure uit vrees vir die Jode gesluit was, het Jesus se dissipels bymekaargekom. Jesus het tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!” Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy aan hulle. Die dissipels was baie opgewonde om die Here te sien. “Vrede vir julle!” sê Jesus weer ’n keer. “Net soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Nadat Jesus dit gesê het, het Hy oor hulle geblaas en vir hulle gesê: “Ontvang die Heilige Gees! Wie se sondes julle ook al vergewe, God vergewe hulle dit; wie s’n julle ook al handhaaf, God handhaaf dit.” Tomas, ook genoem Didimus, een van die twaalf, was nie saam met die ander dissipels toe Jesus daar aangekom het nie. Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!” Maar hy het vir hulle gesê: “As ek nie die merk van die spykers in sy hande sien en my vinger in die spykermerke steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nóóit glo nie.” Agt dae later was Jesus se dissipels weer saam, en Tomas was by hulle. Die deure was op slot en grendel, maar Jesus het tussen hulle kom staan en aan hulle gesê: “Vrede vir julle!”