JOHANNES 13:1-15

JOHANNES 13:1-15 NLV

Voor die viering van die paasmaaltyd het Jesus reeds geweet dat sy tyd aangebreek het om van hierdie wêreld af na die Vader toe oor te gaan. Jesus was lief vir sy eie mense wat in die wêreld gewoon het. Hy het hulle enduit liefgehad. Gedurende die aandete het die duiwel alreeds ’n saadjie in die hart van Judas, die seun van Simon Iskariot, geplant om Jesus uit te lewer. Jesus het geweet dat die Vader alles tot sy beskikking gestel het, en dat Hy van God gekom het en weer na God teruggaan. Hy het toe van die tafel af opgestaan, sy bo-klere uitgetrek, ’n doek gevat en dit om Hom vasgebind. Daarna het Hy water in ’n wasskottel gegooi en begin om die dissipels se voete te was en af te droog met die doek wat om Hom vasgebind was. Hy kom toe by Simon Petrus, wat vir Hom sê: “Here, gaan U mý voete was?” Jesus antwoord hom: “Wat Ek besig is om te doen, verstaan jy nie nou nie, maar wanneer alles verby is, sal jy dit verstaan.” Petrus se onmiddellike reaksie was: “U sal tot in ewigheid nooit mý voete was nie!” Jesus antwoord hom: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.” Simon Petrus vra Jesus toe: “Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en kop.” Jesus sê vir hom: “Iemand wat klaar gebad het, is heeltemal skoon, behalwe om nog sy voete te was. En julle is mos reeds skoon – nee, tog nie almal nie.” Jesus het goed geweet wie Hom sou uitlewer; daarom het Hy gesê: “Julle is nie almal skoon nie.” Nadat Jesus hulle voete klaar gewas het, het Hy sy bo-klere aangetrek en weer aangelê by die ete. Hy sê toe vir hulle: “Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het? Julle noem My Leermeester en Here, en tereg só, want Ek is dit. As Ek dan, wat julle Here en Leermeester is, julle voete gewas het, moet julle ook mekaar se voete was. Ek het vir julle ’n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen.