Toe Jesus daar aankom, het Hy uitgevind dat Lasarus al vier dae in die graf was. Betanië was naby Jerusalem, ongeveer drie kilometer daarvandaan. Baie van die Jode het by Marta en Maria opgedaag om hulle meegevoel oor hulle broer te betuig. Toe Marta hoor dat Jesus op pad is, het sy Hom gaan ontmoet. Maria het egter in die huis bly sit. Marta het vir Jesus gesê: “Here, as U maar net hier was, sou my broer nie gesterf het nie. Maar selfs nou nog weet ek dat God aan U sal gee wat U Hom ook al vra.”
Jesus sê vir haar: “Jou broer sal weer opstaan.”
Marta het dadelik reageer: “Ek weet dat hy weer sal opstaan met die opstanding op die laaste dag.”
Jesus het vir haar gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterf hy ook. Elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterf nie. Glo jy dit, Marta?”
Sy sê vir Hom: “Ja, Here, ek is vas oortuig dat U die Messias is, die Seun van God, Hy wat na die wêreld toe sou kom.” Nadat sy dit gesê het, het sy teruggegaan en haar suster, Maria, gaan roep en stilletjies vir Maria gesê: “Die Leermeester is hier, en Hy roep jou.”
Toe sy dit hoor, het Maria gou-gou opgestaan en na Jesus toe gegaan. Jesus het toe nog nie in die dorpie aangekom nie, maar was steeds op die plek waar Marta Hom ontmoet het. Die Jode wat saam met Maria in die huis was om met haar te simpatiseer, het gesien dat sy so vinnig opstaan en uitgaan. Hulle het haar gevolg omdat hulle gedink het sy is op pad graf toe om daar te gaan treur. Toe Maria aankom waar Jesus nog was, en sy Hom sien, het sy by sy voete neergeval en vir Hom gesê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie!”
Toe Jesus sien dat sy huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het Hy bewoë geraak en was diep ontsteld. Hy sê toe: “Waar het julle hom neergelê?” Hulle antwoord: “Here, kom kyk.”
Jesus begin toe huil. Die Jode sê toe: “Kyk net hoe lief was hy vir Lasarus!” Sommige van die omstanders het gesê: “Was hierdie man wat die oë van die blinde oopgemaak het, dan nie ook in staat om te keer dat Lasarus sterf nie?”
Jesus het weer bewoë geword toe Hy by die graf kom. Die graf was ’n grot en ’n klip was voor die opening gerol.