Dit is die getuienis van Johannes toe die Joodse leiers uit Jerusalem priesters en Leviete na hom gestuur het om hom uit te vra: “Wie is jy nou eintlik?”
Toe het Johannes getuig en dit nie ontken nie, maar voluit bely: “Ék is nie die Messias nie.”
En hulle antwoord hom toe: “Nou wie is jy dan? Is jy Elia?”
“Nee, ek is nie,” sê Johannes.
“Is jy dan die profeet?”
“Beslis nie!” het hy geantwoord.
Hulle het toe vir hom gesê: “Wie is jy dan? Ons moet ’n antwoord kan gee aan hulle wat ons gestuur het. Wat het jy dan oor jouself te sê?”
Sy reaksie was:
“Ek is ’n stem
wat roep
in die woestyn:
‘Maak die pad van die Here
reguit.’”
Só het die profeet Jesaja mos reeds gesê.
Dié wat gestuur is, het uit die geledere van die Fariseërs gekom.
Hulle het toe verder by hom navraag gedoen: “Waarom doop jy dan as jy nie die Messias of Elia of die profeet is nie?”
Johannes se reaksie was: “Ek doop met water, maar hier tussen julle staan daar Iemand wat julle nie nou ken nie. Dit is Hy wat ná my kom. Ek is nie eers werd om die riempies van sy sandale los te maak nie.” Hierdie gebeure het afgespeel in Betanië, oorkant die Jordaan, waar Johannes besig was om te doop.
Die volgende dag sien Johannes dat Jesus na hom toe aangestap kom. Hy sê toe: “Kyk, dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Dit is Hý van wie ek gesê het: ‘Ná my kom Iemand wat voor my reeds bestaan het. Hy is baie belangriker as ek.’ Ek was self ook nie daarvan bewus dat dit Hy is nie. Daarom het ek gekom, en doop ek met water om Hom aan Israel voor te stel.”
Johannes het ook nog verder getuig: “Ek het duidelik gesien dat die Gees soos ’n duif uit die hemel neerkom en op Hom gaan sit. Ek het regtig nie geweet dat dit Hy was nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien neerdaal en bly sit, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ Ek het dit self sien afspeel voor my oë, en daarom getuig ek dat Hy werklik die Seun van God is.”
Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan, saam met twee van sy dissipels. Toe Jesus by hulle verbyloop, het Johannes betekenisvol na Hom gekyk en gesê: “Kyk, dáár is die Lam van God!” Sy twee dissipels het Johannes dit hoor sê en Jesus dadelik begin volg. Jesus het omgedraai en gesien hulle volg Hom. Hy sê toe vir hulle: “Wat soek julle?”
Hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – as dit vertaal word, beteken dit “leermeester” – “waar gaan U tuis?”
Hy antwoord hulle: “Kom kyk self en julle sal sien.” Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuis was. Dit was omtrent vieruur die middag. Hulle het toe die res van daardie dag by Hom gebly.
Andreas, Simon Petrus se broer, was een van die twee dissipels wat dit van Johannes gehoor en Jesus gevolg het. Hy kry toe eers sy eie broer Simon, en sê vir hom: “Ons het die Messias (wat as dit vertaal word ‘Gesalfde’ beteken) gekry.”
Hy het Simon na Jesus toe geneem. Jesus het betekenisvol na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon, die seun van Johannes; jy sal van nou af Sefas (wat as ‘Petrus’ vertaal word) genoem word.”
Die volgende dag wou Jesus na Galilea toe vertrek. Hy loop eers vir Filippus raak en sê vir hom: “Volg My!” Filippus het van Betsaida af gekom, Andreas en Petrus se tuisdorp.
Op sy beurt loop Filippus vir Natanael raak en sê vir hom: “Ons het die persoon gevind oor wie Moses in die wet en die profete geskryf het. Dit is Jesus, die seun van Josef, wat van Nasaret af kom.”
Natanael se reaksie was: “Hoe kan daar uit Nasaret iets goeds kom?”
“Kom kyk self,” het Filippus hom uitgenooi.
Toe Jesus Natanael sien aangestap kom, sê Hy oor hom: “Kyk daar – ’n opregte Israeliet, ’n man van suiwer inbors.”
Natanael reageer toe vraend: “Van waar ken U my?”
“Voordat Filippus jou geroep het,” antwoord Jesus hom, “toe jy nog onder die vyeboom gesit het, het Ek jou al gesien.”
Toe reageer Natanael: “Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!”
Jesus se antwoord aan hom was: “Glo jy omdat Ek vir jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom sien sit het? Jy sal nog groter dinge as dit sien.”
Jesus het ook vir hom gesê: “Ek verseker julle: julle gaan die hemel wyd oop sien en julle sal die engele van God sien op- en afklim na My, die Seun van die Mens, toe.”