JEREMIA 44

44
Straf vir die Jode in Egipte
1Jeremia het ’n boodskap ontvang oor die Judeërs wat in Egipte gewoon het. Hulle was in Migdol, Tagpanges, Memfis#44:1 Grondteks Nof. en in die Patrosstreek. 2“Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: Julle het al die rampe gesien waarmee Ek Jerusalem en die dorpe van Juda getref het. Hulle lê nou verwoes; niemand woon meer daar nie. 3Al die slegte dinge wat hulle gedoen het, het My baie kwaad gemaak. Hulle het ander gode aanbid en vir hulle wierook gebrand. En dit nog vir gode wat nie hulle of hulle voorouers ooit geken het nie!
4“Hoeveel keer het Ek nie my diensknegte – die profete – gestuur om hulle te smeek en te sê: Moenie hierdie afskuwelike dinge doen wat Ek so haat nie. 5Maar hulle wou nie luister of gehoor gee en ophou om verkeerd te doen nie. Hulle het net aangehou om wierook vir ander gode te brand. 6Daarom het my woede oorgeborrel en gevlam teen die dorpe van Juda en die strate van Jerusalem. Nou is hierdie plekke net verlate bouvalle.
7“En nou vra die Here, die Almagtige, die God van Israel, vir julle: Hoekom bring julle so ’n groot onheil oor julleself? Nie een van julle sal oorleef nie, nie enige man, vrou, kind of suigeling wat van Juda af kom nie. Niemand sal oorbly nie. 8Hoekom maak julle My kwaad met afgode wat julle self gemaak het? En dan brand julle ook nog wierook vir ander gode, hier in Egipte waar julle kom woon het! In die proses vernietig julle julleself. Die volke van die wêreld sien julle as ’n vloek of spot met julle. 9Het julle al klaar die kwaad vergeet wat julle voorouers gedoen het? Het julle vergeet van die slegte dinge wat die konings van Juda en hulle vroue gedoen het? En wat van die verkeerde goed wat julle en julle vroue in Juda en Jerusalem gedoen het? 10Tot vandag toe het hulle nie gewys dat hulle daaroor spyt of bang is nie. Niemand steur hulle ook aan my voorskrifte en hoe Ek dinge gedoen wil hê nie. Ek het dit vir julle en julle voorouers gegee om te doen, maar hulle het nie.
11“Daarom sê die Here, die Almagtige, die God van Israel: Ek het besluit om julle almal te vernietig! Ek gaan van die hele Juda ontslae raak. 12Ek sal die groep mense wat in Juda oorgebly het, maar aandring om in Egipte te woon, uitwis. Hulle sal in Egipte sterf, deur oorloë of van hongersnood. Almal, klein en groot, sal sterf. Dit sal mense met afgryse vervul. Die volke van die wêreld sal julle as ’n vloek beskou en met julle spot. 13Ek sal hulle in Egipte straf net soos Ek hulle in Jerusalem gestraf het, deur oorloë, hongersnood en siektes. 14Sommige van die mense wat in Juda oorgebly het en in Egipte kom woon het, het gehoop om weer na Juda terug te keer en daar te leef. Niemand sal weer daar gaan woon nie, behalwe ’n paar wat sal ontsnap.”
15’n Groot groep van die Judeërs wat in Patros in Egipte gewoon het, was bymekaar. Die groep het bestaan uit mans wat geweet het dat hulle vroue wierook vir ander gode gebrand het, en die vroue wat daar rondgestaan het. Hulle almal het Jeremia geantwoord en gesê: 16“Ons sal nie luister na die boodskap wat jy sê van die Here af kom nie! 17Ons sal doen wat ons wil. Ons sal wierook brand vir die koningin van die hemel en drank uitgiet om haar te vereer. Ons het dit nog altyd gedoen en ook ons voorouers voor ons. Ons konings en ons leiers het dit ook gedoen. Ons almal het dit gedoen in die dorpe van Juda en in die strate van Jerusalem. En toe het ons volop kos gehad, dit het eintlik sommer baie goed gegaan met ons! Ons het nie probleme gehad nie! 18Maar vandat ons opgehou het om wierook vir die koningin van die hemel te brand en drank uit te gooi, het ons alles verloor. Ons het in oorloë en van honger doodgegaan.”
19Die vroue het bygevoeg: “Dit is so, ons het wierook vir die koningin van die hemel gebrand en drank ter wille van haar uitgegooi as ’n offer. Ons het selfs koekies gebak wat haar vorm het. Maar dink jy ons het dit gedoen sonder die medewete en hulp van ons mans?”
20Nadat hulle Jeremia geantwoord het, het hy aan al die mans en die vroue gesê: 21“Dink julle die Here het nie geweet wat julle en julle voorouers in die dorpe van Juda en in die strate van Jerusalem gedoen het nie? Natuurlik het Hy geweet dat julle en julle voorouers, julle konings en leiers en al die ander mense wierook vir die afgode gebrand het. 22Die Here kon dit nie langer verduur dat julle hierdie slegte en verwerplike dinge doen nie; daarom het Hy julle soos ’n vloekwoord gemaak. Dit is ook hoekom julle land vandag ’n bouval is. Dit is ’n verlate plek, sonder enige mense wat daarin woon. 23Die Here bring hierdie onheil oor julle omdat julle wierook gebrand het. Julle het ook teen die Here gesondig deur aan Hom ongehoorsaam te wees. Hy het vir julle sekere reëls en riglyne gegee waarvolgens julle moes lewe, maar julle het julle nie daaraan gesteur nie.”
24Jeremia het vir al die mense, die vroue ingesluit, gesê: “Luister na die boodskap van die Here, julle wat in Egipte woon. 25Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: Julle en julle vroue het mos gesê dat julle nooit sal ophou om die godin van die hemel te vereer nie. Dit is duidelik uit alles wat julle sê en doen. Hou by julle beloftes aan haar en doen wat julle gesê het julle gaan doen!
26“Ek sê weer, luister na die Here se boodskap vir al die Judeërs wat in Egipte woon. Hy sê: ‘Ek het ’n eed afgelê en Ek is so ernstig daaroor dat Ek my Naam en reputasie op die spel plaas. Die mense van Juda wat in Egipte woon, sal my Naam nooit weer gebruik nie. Julle mag nie my Naam gebruik as julle ’n eed neem om krag aan julle woorde te verleen nie. Julle mag nooit weer sê: So waar as die oppermagtige Here lewe nie! 27Ek sal sorg dat dit met julle sleg gaan. Niks goeds gaan met julle gebeur nie; oorloë en hongersnood sal julle tref. Dit sal aanhou totdat niemand van julle meer in Egipte oor is nie. 28Net ’n baie klein klompie sal die dood vryspring en uit Egipte na Juda terugkeer. Die groepie Judeërs wat na Egipte gevlug het, sal uitvind wie die waarheid gepraat het en wie nie.
29“‘Die bewys daarvan sal wees dat alles wat Ek gedreig het om te doen, met julle sal gebeur. Ja, Ek sal julle hier in Egipte straf. 30Ek gee farao Hofra, koning van Egipte, oor aan sy vyande wat hom wil doodmaak, nes Ek koning Sedekia van Juda oorgegee het aan koning Nebukadnesar van Babel, wat hom wou doodmaak.’ Dit is wat die Here sê!”

Tans Gekies:

JEREMIA 44: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan