JEREMIA 19

19
Die gebreekte kleipot
1Die Here het vir my gesê: “Gaan koop ’n kleipot. Vra dan sommige van die leiers van die volk en van die priesters om saam met jou te gaan. 2Gaan dan uit by die uitgang met die naam Potskerfhek na die vallei van die seun van Hinnom. Verkondig daar vir hulle die boodskap wat Ek vir jou gegee het. 3Sê vir hulle: ‘Konings van Juda en inwoners van Jerusalem, luister na die boodskap van die Here! Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: Ek gaan ’n baie groot ramp oor hierdie plek laat kom. As mense daarvan hoor, sal hulle ore tuit.
4“‘Ek doen dit omdat hulle dislojaal was aan My. Hulle het hierdie vallei onrein gemaak deur wierook vir vreemde gode te brand. Hierdie gode was so onbekend, nie vandag se mense of hulle voorouers of die konings van Juda het hulle geken nie. Hulle het ook onskuldige mense hier doodgemaak. 5Hulle het hoogtes vir Baäl gebou. Hier het hulle hulle eie kinders as brandoffers aan Baäl geoffer. Dit is nie iets wat Ek hulle sou beveel het om te doen nie. Dit het nie eers in my gedagtes opgekom om so iets te beveel nie! 6Die Here sê: Neem kennis, die tyd kom wanneer die naam van hierdie plek nie meer Tofet of Hinnomdal sal wees nie, maar Moorddal. 7Hier sal Ek Juda en Jerusalem se oorlogsplanne dwarsboom. Ek sal toelaat dat julle vyande julle met geweld doodmaak. Die vyand sal julle lyke vir aasvoëls en wilde diere los om te verslind. 8Ek sal hierdie stad só verwoes laat dat mense na hulle asems sal snak. Mense wat verbyloop, sal geskok wees en van verbasing fluit oor die slagting. 9Hulle vyande en die mense wat hulle wil doodmaak, sal hulle beleër tot al die kos op is. Dan sal die mense wat in die stad vasgekeer is, hulle seuns, dogters en vriende weens honger begin eet. Hulle sal tot wanhoop gedryf word.’
10“Jeremia, breek nou die kleipot voor die oë van die mense wat saam met jou gekom het. 11Sê vir hulle: ‘Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: Soos hierdie kleipot hier voor julle in skerwe lê, so sal Ek met hierdie stad en sy inwoners maak. Hulle sal soos hierdie kleipot wees wat ’n mens nie weer kan heelmaak nie. Hulle sal die lyke van die mense in Tofet begrawe omdat daar nêrens anders meer plek sal wees nie. 12Dit is wat Ek met hierdie stad en sy inwoners sal doen, sê die Here. Ek sal hierdie stad soos Tofet maak.
13“‘Die inwoners van Jerusalem het op die dakke van hulle huise wierook gebrand vir die sterregode. Hulle het ook vir ander gode drankoffers uitgegooi. Omdat hulle dit gedoen het, sal al die huise van die inwoners van Jerusalem en die paleise van die konings van Juda so onrein word soos Tofet.’”
14Nadat Jeremia by Tofet geprofeteer het soos die Here gesê het hy moes, het hy na die stad toe teruggegaan. Hy het in die voorhof van die tempel gaan staan en vir almal wat daar was, gesê: 15“Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: ‘Soos Ek beloof het, sal Ek rampe bring oor hierdie stad en al die dorpe wat in die omgewing van die stad is. Ek doen dit omdat julle so hardkoppig is en weier om na My te luister.’”

Tans Gekies:

JEREMIA 19: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid