JAKOBUS 3:1-8

JAKOBUS 3:1-8 NLV

My broers en susters, julle moenie almal leermeesters wil word nie, want julle weet dat God ons wat leermeesters is, strenger as ander sal beoordeel. Ons maak almal baie foute. Maar ’n mens wat sy tong in toom kan hou, kan dit ook met sy hele liggaam regkry. Net as ons stange in hulle bek gesit het, gehoorsaam perde ons en het ons die hele dier onder beheer. En ’n klein roertjie maak dat ’n groot skip draai net waarheen die stuurman wil, selfs wanneer sterk winde waai. So is die tong ook iets kleins, en tog kry dit groot dinge reg. ’n Klein vuurtjie kan ’n groot bos aan die brand steek. Die tong is ook ’n vuur. Dit is vol dinge wat jou verhouding met God kan bederf. Dit kan jou hele lewe in vlamme laat opgaan, want die duiwel steek dit aan. Die mens kan elke soort dier, voël, reptiel en seedier mak maak, maar geen mens kan die tong tem nie. Dit is ’n onbeheerbare kwaad, vol dodelike gif.