JAKOBUS 1:5-20

JAKOBUS 1:5-20 NLV

Vra vir God as dit nie vir jou duidelik is wat Hy wil hê jy moet doen nie. Hy sal jou eenvoudig daardie wysheid gee, en jou nie verwyt dat jy dit gevra het nie. Maar, as ’n mens bid, moet jy die vertroue hê dat God sal antwoord, want iemand wat twyfel, is soos ’n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So iemand kan mos nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie. Hy is iemand wat nie tot ’n besluit kan kom nie; op so iemand kan jy nie peil trek nie. Gelowiges wat nie status in die samelewing het nie, moet trots wees op die status wat God aan hulle gee. Gelowiges wat ryk is, moet bly wees oor hulle nederige status voor God. Want hulle rykdom sal soos die veld se blomme net ’n rukkie hou. Julle weet mos: Die warm son kom met gloeiende hitte op en verskroei die veld. Die blomme val af, en die veld se prag is weg. So sal die rykes ook met alles wat hulle bymekaargemaak het, vergaan. Gelukkig is die mens wat in beproewing volhard! As die toets sy geloof as eg bewys, sal hy die lewe as oorwinningskroon ontvang. God het hierdie lewe belowe aan hulle wat Hom liefhet. Wanneer iemand iets verkeerds wil doen, moet hy nie sê: “God verlei my” nie. Ons weet mos God kan nie verlei word om verkeerd te doen nie, en Hý verlei ook niemand nie. Ons eie sondige begeertes beproef ons, sleep ons saam en verlei ons. As ons sondige begeertes eers bevrug geraak het, is sonde die babatjie wat gebore word. En as hierdie babatjie kans kry om volwasse te word, gee dit geboorte aan die dood. Moet dus nie mislei word nie, my geliefde broers en susters. Van Bo af kom net goeie, ja, volmaakte gawes. Hulle kom van die Vader wat die hemelligte geskep het. Anders as die hemelligte, staan Hy onbeweeglik vas. Selfs sy skaduwee verskuif nie soos hulle s’n nie. Omdat God só besluit het, het Hy ons deur sy woord wat waar is, as sy kinders verwek en gebore laat word. Só het dit gekom dat ons die keur van sy hele skepping is. My geliefde broers en susters, wees altyd gou om te luister, nie te gou om te praat nie, en nie te gou om kwaad te word nie. As jy kwaad is, kan jy nie doen wat God wil hê nie.