JAKOBUS 1:2-12

JAKOBUS 1:2-12 NLV

My broers en susters, wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees. Julle weet mos: Wanneer ’n mens se geloof ’n toets deurstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard. Julle moet egter enduit volhard. Dan sal julle julle lewensdoel bereik en geestelik gesond wees. Julle sal niks kortkom nie. Vra vir God as dit nie vir jou duidelik is wat Hy wil hê jy moet doen nie. Hy sal jou eenvoudig daardie wysheid gee, en jou nie verwyt dat jy dit gevra het nie. Maar, as ’n mens bid, moet jy die vertroue hê dat God sal antwoord, want iemand wat twyfel, is soos ’n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So iemand kan mos nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie. Hy is iemand wat nie tot ’n besluit kan kom nie; op so iemand kan jy nie peil trek nie. Gelowiges wat nie status in die samelewing het nie, moet trots wees op die status wat God aan hulle gee. Gelowiges wat ryk is, moet bly wees oor hulle nederige status voor God. Want hulle rykdom sal soos die veld se blomme net ’n rukkie hou. Julle weet mos: Die warm son kom met gloeiende hitte op en verskroei die veld. Die blomme val af, en die veld se prag is weg. So sal die rykes ook met alles wat hulle bymekaargemaak het, vergaan. Gelukkig is die mens wat in beproewing volhard! As die toets sy geloof as eg bewys, sal hy die lewe as oorwinningskroon ontvang. God het hierdie lewe belowe aan hulle wat Hom liefhet.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid