HOSEA 7:8-16

HOSEA 7:8-16 NLV

“Israel vermeng met die nasies en word net soos hulle. Efraim is soos ’n roosterkoek wat nie omgedraai is nie en halfgebak en waardeloos geword het! Vreemdes het sy kragte getap, maar hy kom dit nie eens agter nie. Hy het oud en swak geword, maar hy besef dit nie. Israel se verwaandheid getuig teen hom; tog draai hy nie om, terug na die HERE sy God toe nie. Hy probeer nie eens om Hom te soek nie. “Die mense van Israel het geword soos ’n dwase, onnosele duif. Hulle roep nou vir Egipte, netnou vlieg hulle na Assirië toe. Wanneer hulle daarheen vlieg, sal Ek my vangnet oor hulle gooi en hulle neertrek soos voëls in die lug. Ek sal hulle straf wanneer hulle in swerms bymekaarkom. “Hoe tragies is dit vir hulle wat van My af wegvlug! Hulle sal omkom, want hulle het teen My in opstand gekom. Ek wou hulle bevry, maar hulle het vir My leuens vertel. Hulle roep nie na My met ’n opregte hart nie. In plaas daarvan lê hulle op hulle beddens en kerm. Hulle sny hulleself stukkend voor hulle afgode as hulle bid vir gesaaides en wingerde. Hulle het teen My gerebelleer. “Ek het hulle opgelei en hulle arms sterk gemaak. Tog beplan hulle bose dinge teen My. Hulle soek hulp, maar nie by die Allerhoogste nie. Hulle is soos ’n slap boog. Hulle leiers sal deur die swaard doodgemaak word weens hulle astrante woorde teenoor My. Dan sal Egipte vir hulle lag.”