God het Noag en sy seuns geseën en vir hulle gesê: “Julle moet meer word deur baie kinders te hê en so die aarde te vul. Al die diere, groot en klein, asook al die voëls en visse sal vir julle bang wees. Ek stel hulle tot julle beskikking. Benewens die groen plante mag julle hulle ook eet. Maar geen dier mag geëet word sonder dat die lewensbloed eers uitgeloop het nie. Wanneer ’n mens doodgemaak word, eis Ek rekenskap, of dit nou ’n dier is of ’n medemens wat dit veroorsaak. Elkeen wat sy medemens doodmaak, moet met die dood gestraf word. Iemand wat ’n mens doodmaak, moet beslis self ook doodgemaak word omdat God die mens na sy beeld gemaak het. Soos reeds gesê, moet julle meer word deur baie kinders te hê sodat julle die aarde kan vul.” God het met Noag en sy seuns gepraat: “Ek sluit ’n verbond met julle en julle nageslag, asook met die diere wat saam met julle is: die voëls en mak diere en wilde diere, met almal wat uit die ark gekom het. Ek onderneem dat Ek nooit weer ’n vloed sal stuur om alles wat lewe dood te maak en die aarde te verwoes nie.” God het bygevoeg: “Om dit te bevestig, gee Ek aan julle en alle lewende wesens ’n teken van hierdie onderneming wat vir altyd sal geld. Die reënboog wat Ek in die wolke gesit het, sal die teken wees van hierdie blywende ooreenkoms met die aarde. Wanneer Ek die wolke in die lug laat saampak en die reënboog verskyn, sal dit My herinner aan my verbond met julle en alle lewende wesens dat daar nooit weer ’n vloed sal wees wat alle lewe vernietig nie. “Sodra Ek die reënboog in die wolke sien, sal Ek herinner word aan die blywende verbond tussen My en alle lewende wesens op aarde.” God het dit vir Noag herhaal: “Dit is die teken van my verbond wat Ek met alle lewende wesens op aarde aangegaan het.” Sem, Gam (die pa van Kanaän) en Jafet, die drie seuns van Noag, het saam met hulle pa uit die ark gekom.
Lees GENESIS 9
Luister na GENESIS 9
Deel
Vergelyk alle weergawes: GENESIS 9:1-18
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's