GENESIS 7:1-12

GENESIS 7:1-12 NLV

Die HERE het vir Noag gesê: “Jy en jou gesin moet in die ark ingaan, want onder al die mense op die aarde is dit jy alleen wat opreg lewe. Jy moet ook sewe mannetjies en sewe wyfies van elke diersoort wat Ek goedgekeur het as geskik om te eet en te offer saamvat. Neem ook een mannetjie en een wyfie uit elk van die ander diersoorte. So ook moet jy sewe mannetjies en sewe wyfies van elke voëlsoort neem om hulle voortplanting op die aarde te verseker. Oor sewe dae sal Ek dit vir 40 dae en 40 nagte aanmekaar laat reën sodat alles wat Ek geskep het, van die aarde uitgewis word.” Noag het die opdrag van die HERE uitgevoer. Hy was 600 jaar oud toe die vloed begin het. Hy, sy vrou, sy seuns en hulle vroue het aan boord gegaan om die vloed te oorleef. Saam met hulle was daar diere van alle soorte: dié wat geëet en vir offers gebruik kon word, dié wat nie daarvoor goedgekeur was nie, asook van al die voëls en ander klein diertjies wat op die aarde kruip. Hulle het in pare, mannetjies en wyfies, na Noag by die ark gekom net soos God vir Noag beveel het. ’n Week later het die groot vloed losgebreek en die aarde oordek. Op die sewentiende dag van die tweede maand, tydens Noag se seshonderdste jaar, het die onderaardse waters oopgebars. Die reën het ook in strome begin neerstort vir 40 dae en nagte aanmekaar.

Video vir GENESIS 7:1-12