GENESIS 41:38-44

GENESIS 41:38-44 NLV

Die farao beraadslaag toe met sy amptenare: “Waar sal ons nog iemand kry soos hierdie man? Hy het verseker die gees van die gode in hom.” Hy draai hom toe na Josef toe en sê: “God het die betekenis van hierdie drome aan jou bekendgemaak. Niemand is ook nog so wys en verstandig soos jy nie! Ek stel jou aan oor die projek en oor die paleis. Jy sal oor al my onderdane gesag hê. Net ek sal meer mag as jy hê.” Die farao sê verder vir Josef: “Hiermee stel ek jou aan oor die hele Egipte.” Toe haal die farao sy seëlring af en steek dit aan Josef se vinger as teken van sy gesag. Hy het vir hom klere van fyn linne laat aantrek en ’n goue ketting om sy nek gehang. Die farao het ook sy tweede beste wa vir hom gegee. Oral waar hy gegaan het, het hulle voor hom uitgeroep: “Eer hom! Eer hom!” Op hierdie manier is Josef oor die hele Egipte aangestel. Die farao sê vir Josef: “Ek is die koning, maar niemand sal in die ganse Egipte ’n vinger verroer of ’n voet versit sonder jou goedkeuring nie.”