GENESIS 2:15-22

GENESIS 2:15-22 NLV

Die HERE God het die mens in die Tuin van Eden aangestel om dit te bewerk en te versorg. Maar die HERE God het hom gewaarsku: “Jy is vry om van enige boom in die tuin te eet, maar van die boom van kennis van reg en verkeerd mag jy nie eet nie. As jy daarvan eet, sal jy beslis sterf.” Daarna sê die HERE God: “Dis nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n metgesel maak, een soos hy.” Toe het die HERE God uit die grond al die verskillende soorte diere en voëls gevorm. Daarop neem Hy hulle na die mens toe om te sien wat hy hulle sou noem. En die mens het vir elkeen ’n naam gegee, vir al die mak diere, die voëls en wilde diere. Hy kon egter onder hulle nie een kry wat soos hy is en vir hom ’n metgesel kon wees nie. Toe het die HERE God die mens baie diep laat slaap. Terwyl hy slaap, vat Hy een van die mens se ribbebene en vul die plek weer op met vleis. Van die ribbebeen maak die HERE God toe ’n vrou en bring haar na die mens toe.