Maar Sarai, Abram se vrou, het nog geen kinders gehad nie. Sarai het ’n Egiptiese slavin gehad met die naam Hagar. Sarai sê toe vir Abram: “Die HERE het my nie toegelaat om kinders te hê nie. Gaan slaap by my slavin. Dalk kan sy ’n kind in die wêreld bring wat ek as my eie kan beskou.” Abram het hiermee ingestem. So het Sarai, Abram se vrou, haar Egiptiese slavin Hagar vir Abram as vrou gegee. Dit het gebeur tien jaar nadat Abram in Kanaän aangekom het. Abram het toe by Hagar gaan slaap en sy het swanger geword. Toe Hagar agterkom dat sy ’n kind verwag, het sy haar meesteres met minagting begin behandel. Toe sê Sarai vir Abram: “Dit is alles jou skuld! Ek het my slavin vir jou gegee om by te slaap. Vandat sy agtergekom het dat sy swanger is, minag sy my. Die HERE sal oordeel tussen my en jou!” Abram het haar terug geantwoord: “Aangesien sy jou slavin is, maak met haar soos jy wil.” Sarai het haar toe so sleg behandel dat Hagar weggeloop het. Die engel van die HERE het haar by ’n fontein in die woestyn op pad na Sur gekry. Die engel sê vir haar: “Hagar, diensmeisie van Sarai, waar kom jy vandaan? Waarheen gaan jy?” “Ek loop weg van my meesteres,” antwoord sy. Toe sê die engel van die HERE vir haar: “Gaan terug na jou meesteres toe en wees aan haar onderdanig.” Die engel van die HERE sê ook: “Ek sal vir jou ’n groot nageslag gee wat nie getel kan word nie.”
Lees GENESIS 16
Deel
Vergelyk alle weergawes: GENESIS 16:1-10
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's