Genesis 16:1-10

Genesis 16:1-10 AFR20

Sarai, Abram se vrou, het nie vir hom kinders in die wêreld gebring nie. Maar sy het 'n Egiptiese slavin gehad; haar naam was Hagar. Sarai sê toe vir Abram: “Kyk, die HERE weerhou my daarvan om kinders te kry. Gaan maar na my slavin; miskien kan ek deur haar 'n familie opbou. ” Abram het ingestem tot Sarai se voorstel. Sarai, Abram se vrou, het toe haar Egiptiese slavin, Hagar, geneem en haar aan haar man Abram as vrou gegee. Dit was nadat Abram al tien jaar lank in die land Kanaän gewoon het. Hy het by Hagar ingegaan en sy het swanger geword. Toe sy egter sien dat sy swanger is, was haar meesteres minderwaardig in haar oë. Sarai sê toe vir Abram: “Die onreg wat ek moet verduur, rus op jou. Ek self het my slavin in jou skoot gegee, maar toe sy sien dat sy swanger is, het ek minderwaardig geword in haar oë. Mag die HERE oordeel tussen my en jou.” Abram het Sarai geantwoord: “Kyk, jou slavin is in jou hand. Maak met haar soos dit goed is in jou oë.” Daarna het Sarai haar mishandel, en sy het van haar af weggevlug. Die •Engel van die HERE het haar by 'n waterbron in die woestyn, by die fontein op die pad na Sur, aangetref. Hy het vir haar gesê: “Hagar, slavin van Sarai, waarvandaan kom jy en waarheen gaan jy?” Sy het geantwoord: “Ek is aan die vlug, weg van my meesteres Sarai af.” Toe sê die Engel van die HERE vir haar: “Gaan terug na jou meesteres en onderwerp jou aan haar gesag.” Die Engel van die HERE het vir haar gesê: “Ek sal jou nageslag besonder baie maak, sodat hulle vanweë hulle getalle nie getel kan word nie.”

Video for Genesis 16:1-10