“Die belasting wat julle aan die regeerder moet betaal, is: een 60ste van die koring en die gars, en een 100ste van julle olyfolie, en uit die waterryke gebiede een uit elke 200 van julle kleinveekudde. Hierdie is die graanoffers, brandoffers en vrede-offers wat vir die mense versoening bring, sê die oppermagtige HERE. “Die hele volk moet vir die regeerder hulle offers bring. Die regeerder moet offers verskaf wat tydens die godsdienstige feeste gebring word, tydens die Nuwemaansviering, Sabbatdae en ander geleenthede. Hy moet die sonde-offers, brandoffers, graanoffers, drankoffers en vrede-offers verskaf wat vir die volk van Israel versoening sal bring. “So sê die oppermagtige HERE: In die vroeë lente, op die eerste dag van die eerste maand van die nuwe jaar moet jy ’n bul sonder enige liggaamsgebrek offer om die tempel te reinig. Die priester moet dan van die bloed van die sonde-offer vat en dit aan die deurkosyne van die tempel smeer, en aan die vier hoeke van die boonste vlak van die altaar en die kosyne van die ingange na die binneste hof. Doen dit ook op die sewende dag van die nuwe jaar vir almal wat per ongeluk of onkundig gesondig het. Op hierdie manier bring die tempel versoening. “Op die veertiende dag van die nuwe jaar moet julle die Pasga vier. Die fees moet sewe dae aanhou. Julle mag in dié tyd net ongesuurde brood eet. Daardie dag moet die regeerder ’n jong bul verskaf as sonde-offer vir homself en die volk van die land. Op elkeen van die sewe dae van die fees moet hy ’n brandoffer vir die HERE regmaak, wat bestaan uit sewe jong bulle en sewe ramme, almal sonder liggaamsgebrek. ’n Bokram moet ook elke dag as sonde-offer gegee word. “Die regeerder moet ook as graanoffer by elke bul en elke ram sestien kilogram meel aanbied, en vier liter olie by elke sestien kilogram meel. “Gedurende die sewe dae van die Huttefees, wat elke jaar vroeg in die herfs gehou word, moet die regeerder sewe dae lank net soos met die Paasfees ook die sonde-offer, die brandoffer, die graanoffer en die olie aanbied.”
Lees ESEGIËL 45
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: ESEGIËL 45:13-25
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's