Die HERE het vir my gesê: “Mensekind, kyk na Jerusalem en profeteer teen Israel en haar heiligdomme. Profeteer teen die land Israel.
“Sê vir haar die HERE sê: Ek is jou vyand, Israel, en Ek is besig om my swaard te trek om jou mense daarmee dood te maak, sowel regverdiges as slegte mense. Ja, Ek spaar nie eens die regverdiges nie. My swaard tref elkeen in die land, van die suide tot die noorde. Die hele wêreld sal weet dat Ek die HERE is. My swaard is in my hand, en Ek sal dit nie terugsit voordat sy werk klaar is nie.
“Mensekind, kreun voor die volk! Kreun voor hulle met ’n gebroke hart omdat jy bitter hartseer is. En as hulle jou vra: ‘Hoekom kreun jy so?’ sê vir hulle: ‘Ek kreun oor die verskriklike nuus wat ek gehoor het. Wanneer dit waar word, gaan die dapperste hart van vrees wegsmelt. Almal se krag sal verdwyn. Elke mens sal flou word. Die sterkste knieë sal bewe en so swak word soos water.’ Die oppermagtige HERE sê: Dit kom! Dis op pad!”
Toe sê die HERE vir my: “Mensekind, sê vir die mense die HERE sê:
“’n Swaard word skerp gemaak
en blink gevryf.
Dit word gereed gekry
vir ’n verskriklike slagting.
Dit sal blink soos weerlig!
Lag julle daaroor?
Ander wat baie sterker as jy is,
het al voor sy mag geval!
Ja, die swaard
word skerp en blink gemaak.
Dit word gereed gekry
vir die laksman.
“Mensekind, roep uit en huil,
want die swaard
is teen my volk gerig.
Dit is gerig
teen die leiers van Israel,
uitgelewer om deur die swaard
te sneuwel.
Slaan met jou hande
teen jou heupe
omdat jy ontsteld is!
Almal sal getoets word.
Die oppermagtige HERE vra nou:
Watter kans het hulle?
“Mensekind,
profeteer teen hulle.
Klap jou hande.
Vat dan die swaard,
swaai dit heen en weer,
twee keer, drie keer,
want dit gaan mense doodmaak
en hulle heeltemal
deurboor.
Laat hulle harte wegsmelt
van skrik,
want die swaard blits
by al hulle poorte.
Dit blits soos weerlig,
blink gevryf
om dood te maak.
Swaard, slaan na regs,
slaan na links,
wie jy ook al wil tref!
Ek klap ook my hande,
want my woede sal afkoel.
Ek, die HERE, het dit gesê.”
Toe het die HERE vir my gesê: “Mensekind, teken ’n kaart met twee roetes daarop wat die koning van Babilon se swaard kan volg. En sit ’n padteken langs die pad wat uit Babilon kom, net daar waar die pad vurk. Die een pad gaan na Ammon en sy hoofstad Rabba, en die ander na Juda en die versterkte stad Jerusalem.
“Die koning van Babilon staan nou by die vurk in die pad. Hy weet nie watter een hy moet aanval nie. Hy roep sy towenaars om die voortekens te lees. Hulle skud pyle, raadpleeg die gode en ondersoek ’n dier se lewer. In sy regterhand kom die teken: Draai na Jerusalem toe! Hulle beweeg met stormramme na die poorte toe. Hy gee die bevel om aan te val. Hulle bou ’n beleëringswal en torings teen die stad om oor die muur te kom.
“Die mense van Jerusalem dink dis ’n fout, want het hulle nie ’n ooreenkoms met die koning van Babilon aangegaan nie? Maar die koning van Babilon herinner hulle aan hulle opstandigheid. Hy val hulle aan en neem hulle gevange.
“Daarom sê die oppermagtige HERE: Weer en weer het julle gewys hoe skuldig julle is. Julle kry nie eers skaam oor julle opstandigheid nie! Julle probeer dit nie eens wegsteek nie. Waar julle gaan en wat julle doen, alles is net sonde! Daarom het die tyd gekom dat julle gestraf word.
“Korrupte en slegte leier van Israel, jou dag van afrekening het aangebreek. Haal af jou kopdoek en jou kroon, sê die oppermagtige HERE.
“Alles het verander. Die magteloses word nou verhoog, en die magtiges word verneder. Ek vernietig! Ek vernietig die koninkryk! En dit sal nie herstel word nie tot die een kom wat regverdig oordeel. Dan gee Ek dit oor in sy hand.”