ESEGIËL 14

14
Afgodsdiens van Israel se leiers
1Party van die leiers van Israel het by my besoek kom aflê. Terwyl hulle by my sit, 2het die Here vir my gesê: 3“Mensekind, hierdie leiers het hulle harte op afgode gerig. Hulle het die struikelblok van sonde in hulle lewe toegelaat. Hoekom moet Ek toelaat dat hulle enigiets van My vra? 4Sê vir hulle die oppermagtige Here sê: Ek, die Here, sal die mense van Israel straf, hulle wat afgode in hulle harte oprig en die struikelblok van sonde toelaat, en wat dan nogtans die profeet vir raad kom vra. 5Ek sal dit doen om die volk Israel se harte te herower, hulle wat My verlaat het om hulle afgode te dien.
6“Daarom, sê vir die volk Israel die oppermagtige Here sê: Draai om! Draai weg van julle afgode! Hou op met julle afskuwelike dade! 7Want as enigeen uit Israel of ’n vreemdeling My verwerp en sy hart rig op afgode en oor sonde struikel, en nogtans na die profeet toe kom om raad van My te kry, sal Ek so iemand self antwoord. 8Ek sal self teen sulke mense draai en van hulle ’n verskriklike voorbeeld maak. Ek sal hulle uit my volk verwyder. Dan sal julle erken dat Ek die Here is. 9En as ’n profeet hom laat mislei om iets te sê, sal dit wees omdat Ek, die Here, daardie profeet mislei het. Ek sal my hand teen hom uitsteek en hom verwyder uit die midde van my volk Israel. 10Hulle sal hulle skuld moet dra. Die profeet sal net so gestraf word soos die mens wat hom kom raadpleeg het. 11Op hierdie manier sal die volk Israel leer om nie weg te dwaal van My af nie. Hulle sal nie meer in sonde val nie. Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees, sê die oppermagtige Here.”
Die oordeel van die Here kom
12Die Here het ook nog vir my gesê: 13“Mensekind, veronderstel die mense van ’n land sondig teen My en tree troueloos teen My op. Veronderstel Ek lig dan my vuis op om hulle te verpletter en Ek vat hulle kos weg en stuur ’n hongersnood wat mens en dier vernietig. 14Dan, selfs al was Noag, Daniël en Job tussen hulle, sou dié drie se regverdige optrede niemand anders gered het behalwe net vir hulleself nie, sê die oppermagtige Here.
15“Of veronderstel Ek stuur ’n klomp gevaarlike wilde diere om die land te verwoes en die mense dood te maak. Die land word verlate sodat niemand dit waag om daar deur te trek nie. 16Selfs al was hierdie drie mans daar, verklaar die oppermagtige Here, sou dit niks aan die situasie verander nie. Dit sou nie die mense van verwoesting red nie. Net daardie drie sou gered word. Maar die land sal verwoes word.
17“Of veronderstel Ek bring oorlog teen die land, en Ek stuur vyande om te kom en mens en dier te vernietig. 18Selfs al was hierdie drie mans in die land, sweer die oppermagtige Here dat hulle nie hulle eie seuns en dogters sou kon red nie. Net hulle sal gered word.
19“Of veronderstel Ek stort my woede uit oor die land deur pessiekte in die land te laat uitbreek, en die pessiekte maak mens en dier dood. 20Selfs al het Noag, Daniël en Job daar gebly, sweer die oppermagtige Here, sou hulle nie hulle eie seuns of dogters kon red nie. Net hulle sou gered word deur hulle regverdige optrede.
21“So sê die oppermagtige Here: Hoeveel erger gaan dit nie wees nie as Ek al vier my vreesaanjaende strawwe oor Jerusalem uitstort: oorlog, hongersnood, wilde diere en pessiekte. Mens en dier sal doodgemaak word. 22Tog sal daar ’n klompie oorlewendes oorbly, ’n oorblyfsel wat uit Jerusalem gebring word. Hulle sal as ballinge kom om tussen julle te kom bly. En dan sal julle self sien hoe boos hulle is. En dan sal julle beter voel oor die ramp wat Ek oor Jerusalem gebring het, oor alles wat Ek Jerusalem aangedoen het. 23Julle sal verstaan wanneer julle sien hoe hulle optree. Dan sal julle saamstem dat Ek hierdie dinge wat Ek aan die stad gedoen het, nie sonder rede gedoen het nie, sê die oppermagtige Here.”

Tans Gekies:

ESEGIËL 14: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan