EKSODUS 39

39
Klere vir die priesters
1Vir die priesters het hulle klere van blou, pers en bloedrooi materiaal gemaak. Hulle moes hierdie klere dra wanneer hulle by die heiligdom diens gedoen het. Hulle het dit presies net so gemaak soos die Here vir Moses gesê het.
2Die skouerkleed was van fyn linne waarin gouddraad en blou, pers en bloedrooi wol geweef was. 3’n Kunstenaar het goud in dun velle uitgerol en dun repies daaruit gesny. Hy het dit saam met die blou, pers en bloedrooi wol ingeweef in die materiaal.
4Hulle het aan die skouerkleed twee skouerbande gemaak waarmee dit aan die skouers vasgemaak kan word. 5Hulle het ook ’n gordel gemaak waarmee die skouerkleed om die heupe vasgetrek word. Dit was uit dieselfde fyn linne met blou en pers en bloedrooi wol ingeweef. Dit was presies net soos die Here vir Moses gesê het. 6Hulle het oniks poleer en dit in goud gemonteer. Hulle het daarin die name van die stamme van Israel gegraveer. 7Dit is op die skouerbande van die skouerkleed vasgesit. Hierdie stene het die Here aan die volk van Israel herinner. Dit is alles presies net so gemaak soos die Here vir Moses gesê het.
Die borssak
8Die sak wat voor die bors kom, is op dieselfde manier as die skouerkleed gemaak. Dit was van fyn linne waarop gouddraad en blou en pers en bloedrooi wol geborduur is. 9Die materiaal is dubbel gevou om ’n sak te vorm van 25 sentimeter lank en breed. 10Hulle het hierop vier rye met drie edelstene#39:10 Daar is onsekerheid oor presies watter edelstene hier bedoel word. elk vasgemaak. In die eerste ry was daar karneool, topaas en smarag. 11In die tweede ry was daar turkoois, saffier en jaspis. 12In die derde ry was daar hiasint, agaat en ametis. 13Die laaste ry het chrisoliet, oniks en opaal gehad. Elkeen was in goud gemonteer. 14In elke steen was ’n naam van die twaalf stamme van Israel fyn gegraveer.
15Om die borssak aan die skouerkleed vas te maak, het hulle goue kettinkies gemaak wat soos tou gevleg is. 16Hulle het ook twee ringetjies gemaak wat hulle aan die bokant van die borssak vasgewerk het. 17Die kettinkies is deur die ringetjies gesteek. 18Die punte van die kettinkies is aan die bande vasgewerk wat oor die skouers kom. 19Twee ander ringetjies is aan die onderkant van die borssak vasgewerk. Hulle was aan die agterkant vasgewerk waar dit oor die skouerkleed kom. 20Twee ringetjies is ook vasgewerk aan die skouerkleed waar die gordel kom. 21Hierdie onderste ringetjies is aan mekaar vasgemaak met blou toutjies om te keer dat die borssak afsak. Alles is presies net so gemaak soos die Here vir Moses gesê het.
Die ander klere van die priester
22Die mantel van die skouerkleed is uit een stuk blou materiaal gemaak. 23In die middel was daar ’n opening waardeur Aäron sy kop kon steek. Dit het ’n omboorsel#39:23 Die grondteks se betekenis is onduidelik. gehad om te keer dat dit skeur. 24Al op die kant van die mantel het hulle blou, pers en bloedrooi tosseltjies vasgewerk wat uit garing gemaak is. 25Hulle het ook goue klokkies al op die soom vasgewerk. 26Die tosseltjies en klokkies het mekaar afgewissel. Dit is gemaak presies net soos die Here vir Moses gesê het.
27Hulle het ook vir Aäron en sy seuns ander klere uit fyn linne gemaak. 28Hulle het ’n tulband en kopdoeke van fyn linne gemaak, asook linnebroeke. 29Daar was ook serpe van geborduurde materiaal waarin blou, pers en bloedrooi wol ingeweef is. Dit was net soos die Here vir Moses gesê het. 30Hulle het ook vir Aäron se tulband ’n blom van suiwer goud gemaak. Daarin was fyn gegraveer: “Net vir die Here.” 31Hierdie blom is met blou gare aan die voorkant van die tulband vasgewerk, presies net soos die Here vir Moses gesê het.
Die werk word voltooi
32Uiteindelik was al die werk aan die tabernakel#39:32 Of tent van ontmoeting. klaar. Die Israeliete het alles presies net so gemaak soos die Here vir Moses beveel het. 33Hulle het die hele tent met alles wat daarby hoort na Moses toe gebring. Dit was die tent en die meubels, die hakies en die panele, die dwarslatte en die pale op hulle voetstukke. 34Daar was die dak van die tent met die lae van gebreide velle en die gordyn om die binneste deel af te skort. 35Daar was ook die ark met die getuienis en die drapale met die deksel. 36Dan was daar ook die tafel met sy toebehore en die offerbrood; 37die goue kandelaar, met sy lampies en olie en alles wat daarby hoort; 38die goue altaar, die salfolie, die geurige wierook en die gordyn voor die ingang was ook daar. 39Die altaar van koper met sy koperrooster, die drapale en die bybehore en die groot waskom met sy voetstuk was ook daar. 40Daar was ook die gordyne vir die binnehof met die regop pale en hulle voetstukke, die gordyn by die ingang van die binnehof, die penne en hulle toue en al die ander gereedskap wat by die tent nodig was. 41Daar was ook die geborduurde klere wat tydens diens in die heiligdom gedra moes word, naamlik die gewyde klere vir die priester Aäron en sy seuns wanneer hulle as priesters opgetree het.
42Die Israeliete het alles gemaak net soos die Here vir Moses gesê het. 43Moses het alles ondersoek en toegesien dat alles presies net so was soos die Here beveel het. Daarna het Moses almal geseën.

Tans Gekies:

EKSODUS 39: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan