EKSODUS 23:1-13

EKSODUS 23:1-13 NLV

“Moenie valse gerugte versprei nie. Moenie met misdadigers saamsweer en valse getuienis in hulle guns aflê nie. “Moenie agter die meerderheid aangaan en ook verkeerd doen nie. Wanneer jy in ’n hofsaak moet getuig, moet jy nie agter die meerderheid aanhardloop en die waarheid verdraai nie. Jy mag ook nie jou getuienis verdraai ter wille van iemand net omdat hy of sy arm is nie. “As jy op jou vyand se beeste of donkie afkom wat verdwaal het, moet jy dit na hom toe terugvat. As jy sien dat die vrag op jou vyand se donkie te swaar is vir hom, mag jy dit nie net so los nie. Jy moet jou vyand help om dit ligter te maak. “Jy mag ook nie in ’n hofsaak iemand verontreg bloot net omdat hy arm is nie. “Bly ver weg van bedrog. Moenie ’n onskuldige en eerlike persoon se dood veroorsaak nie. Ek sal nie een wat skuldig is, laat vrykom nie. “Moenie omkoopgeld aanvaar nie, want dit maak jou blind vir die waarheid. Dit verongeluk die saak van die een wat regverdig is. “Moenie iemand wat uit ’n ander land kom onregverdig behandel nie. Julle weet wat vreemdelinge alles ervaar. Julle was immers self vreemdelinge in Egipte. “Jy moet ses jaar lank die lande bewerk, daarop saai en die oes inbring. In die sewende jaar moet jy die grond net so onbewerk laat lê. Die arm mense van die volk mag dan die graan wat vanself opkom, vir hulle kom oes om te eet. Wat ná hulle oorbly, moet die wilde diere vreet. Jy moet met jou wingerde en olyfbome dieselfde doen. “Jy moet ses dae lank met jou werk aangaan. Op die sewende dag moet jy ophou om te werk sodat jou beeste en donkies kan uitrus. Jou werkers en die buitelanders by jou moet kans kry om te ontspan. “Sorg dat julle alles doen wat Ek vir julle gesê het. Julle moenie vreemde gode aanbid nie. Julle mag nie eers hulle name noem nie.”

Video vir EKSODUS 23:1-13