EFESIËRS 5:15-33

EFESIËRS 5:15-33 NLV

Wees dus baie versigtig hoe julle lewe. Moenie soos dwase mense leef nie, leef wys! Benut elke geskikte ge-leentheid, want ons lewe in slegte tye. Moenie on-deurdag optree nie, maar probeer uitvind wat God se wil is. Verder, moenie soveel wyn drink dat julle dronk word nie, dit lei tot uitspattige gedrag. Nee, laat die Heilige Gees julle lewe vol maak en sing saam psalms en lofgesange en geestelike liedere. Sing en jubel met julle hele hart tot eer van die Here. Sê altyd in die Naam van ons Here Jesus Christus vir God die Vader dankie vir alle dinge. Omdat julle respek het vir Christus, moet julle aan mekaar onderdanig wees. Vroue, julle moet aan julle mans onderdanig wees, soos aan die Here. Op dieselfde manier wat Christus hoof is van die kerk, is ’n man hoof van sy vrou. Christus het sulke hoofskap uitgeoefen toe Hy die kerk verlos het. Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet julle, vroue, in alles elkeen aan julle eie man onderdanig wees. Mans, julle moet julle vroue liefhê net soos Christus die kerk liefgehad het toe Hy sy lewe daarvoor gegee het om só die kerk aan God toe te wy nadat Hy die kerk met die water en deur die woord gereinig het en sodat Hy die kerk in al sy skoonheid voor Hom kan stel, nie met enige vlek of plooi of enige ander onsierlikheid nie, maar aan God toegewy en onberispelik. Op dieselfde manier moet mans hulle eie vroue liefhê. Hulle moet hulle liefhê asof hulle hulle eie liggame is. ’n Man wat sy eie vrou liefhet, het dus eintlik homself lief. ’n Mens haat mos nie jou liggaam nie, maar voed en versorg dit. Christus maak net so met ons, die kerk, omdat ons ledemate van sy liggaam is. Daar staan mos: “’n Man sal weggaan van sy pa en ma en een word met sy vrou, en hulle twee sal een wees.” Dit is eintlik ’n diep geheim, en ek noem dit om die verhouding tussen Christus en die kerk te beskryf. Dit geld egter ook vir julle: Elkeen van julle moet sy eie vrou liefhê soos hy homself liefhet, en die vrou moet haar man respekteer.

Video for EFESIËRS 5:15-33