KOLOSSENSE 3:1-10

KOLOSSENSE 3:1-10 NLV

Aangesien julle saam met Christus tot ’n nuwe lewe opgewek is, streef na die dinge wat daarbo by Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. Laat julle gedagtes beheer word deur die hemelse dinge, nie deur dinge op die aarde nie. Julle het mos saam met Christus gesterf en julle lewe is saam met Hom veilig by God weggesteek. Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom in heerlikheid verskyn. Daarom moet julle die volgende wêreldse dinge afsterf wat deel van julle lewe is: seksuele sondes, onreinheid, wellus, slegte begeertes en gierigheid, wat van geld ’n god maak. Dit is oor sulke goed dat God se straf ongehoorsame mense tref. Vroeër was hierdie dinge ook deel van julle leefstyl. Maar nou moet julle ook nog van al die volgende ontslae raak: kwaad wees, woedebuie, gemeenheid, gevloek. Vuil taal moenie uit julle mond kom nie. Moenie vir mekaar lieg nie. Julle het mos die vorige mens en sy praktyke soos klere uitgetrek en die nuwe mens aangetrek. Hierdie mens kry voortdurend nuwe insig en word só verander en nuut gemaak om al meer soos sy Skepper te lyk.

Video for KOLOSSENSE 3:1-10