HANDELINGE 9:32-42

HANDELINGE 9:32-42 NLV

Petrus het van plek tot plek gereis en het op ’n keer ook by die gelowiges in die dorp Lidda gekom. Daar het hy ’n man met die naam Eneas gekry wat verlam en al agt jaar bedlêend was. “Eneas,” het Petrus toe vir hom gesê, “Jesus Christus maak jou gesond! Staan en rol jou bed op!” En hy het dadelik opgestaan. Al die inwoners van Lidda en die Saronvlakte het hulle tot die Here bekeer toe hulle Eneas sien rondgaan. In Joppe was daar ’n gelowige vrou met die naam Tabita (in Grieks is sy “Dorkas”). Sy was altyd besig om aan ander goed te doen en armes te help. Juis in dié tyd het sy siek geword en is sy dood. Hulle het haar liggaam vir die begrafnis voorberei, en in ’n bokamer neergelê. Met Lidda naby Joppe het die gelowiges gehoor dat Petrus daar is. Hulle het toe twee mans na hom toe gestuur met die versoek: “Kom asseblief sonder uitstel na ons toe!” Petrus is dadelik saam met hulle terug. Toe hy daar kom, het hulle hom bokamer toe gevat. Al die weduwees het by hom kom staan en snikkend vir hom die verskillende soorte klere gewys wat Dorkas gemaak het toe sy nog by hulle was. Petrus het almal egter uitgestuur, en toe het hy gekniel en gebid. Hy het na die liggaam toe gedraai en gesê: “Tabita, staan op!” Sy het haar oë oopgemaak! Toe sy Petrus sien, het sy regop gesit. Hy het haar sy hand gegee en haar help opstaan. Toe het hy die gelowiges en die weduwees geroep, en hulle gewys sy leef. Dié gebeure het in die hele Joppe bekend geword, en baie het tot geloof in die Here gekom.