HANDELINGE 10:24-48

HANDELINGE 10:24-48 NLV

Hulle het die volgende dag in Sesarea aangekom. Kornelius het hulle al verwag en het sy familie en naby vriende reeds saamgeroep. Toe Petrus die huis inkom, het Kornelius voor sy voete neergeval en hom begin aanbid. Maar Petrus het hom opgehelp en ge-sê: “Staan op! Ek is ’n mens net soos jy!” En terwyl hy met hom praat, gaan hulle binne, en kry die klomp mense wat daar bymekaar is. Petrus sê toe vir hulle: “Julle weet dat ’n Jood nie met iemand van ’n ander volk kontak mag hê of by hom in die huis mag kom nie, maar God het vir my gewys dat ek geen mens as onrein mag beskou nie. Daarom het ek sonder beswaar gekom toe ek laat haal is. Ek vra dan nou waarom julle my laat haal het.” Kornelius antwoord: “Vier dae gelede was ek in my huis besig om te bid, so teen drie-uur die middag. Skielik staan daar toe ’n man met blink klere voor my. Hy sê vir my: ‘Kornelius, jou gebed is verhoor en God het jou bydraes vir die armes nie vergeet nie! Stuur mense Joppe toe en laat vir Simon met die noemnaam Petrus daar haal. Hy is ’n gas in die huis van Simon, ’n leerlooier wat naby die see woon.’ So het ek dadelik mense na u toe gestuur, en u was so goed om te kom. Hier is ons nou almal voor God om te hoor watter boodskap die Here aan u gegee het.” Toe antwoord Petrus: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie sekere mense bo ander voortrek nie. In enige volk neem Hy dié mense aan wat vir Hom ontsag het en doen wat reg is. Julle weet tog dat God aan die volk Israel die Goeie Nuus gestuur het dat daar vrede met Hom is deur Jesus Christus, wat Here oor almal is. Julle weet ook self wat dwarsdeur Judea gebeur het; dit het van Galilea af begin ná Johannes die Doper begin preek het. Julle weet ook hoe God Jesus van Nasaret met die Heilige Gees en met krag gesalf het. Jesus het toe rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat onder die mag van die duiwel was, want God was by Hom. “En ons as apostels is getuies van alles wat Hy in Judea en in Jerusalem gedoen het. Die Jode het Hom vermoor deur Hom te kruisig, maar God het Hom drie dae later opgewek. Toe het God Hom laat verskyn, nie in die openbaar aan almal nie, maar net aan ons vir wie Hy vantevore gekies het om Jesus se getuies te wees, ons wat ná sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het. Hy het ons toe opdrag gegee om aan almal te verkondig en te getuig dat dit Hy is wat deur God beskik is om Regter oor almal te wees – dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het. “Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ont-vang.” Terwyl Petrus nog hierdie dinge sê, het die Heilige Gees op almal gekom wat sy boodskap gehoor het. Die Joodse gelowiges wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die Heilige Gees ook op nie-Jode as geskenk uitgestort is. Hulle het geen twyfel daaroor gehad nie, want hulle het hulle ongewone tale hoor praat, en hoe hulle God se grootheid besing. Petrus het toe gesê: “Wat kan verhinder dat hulle met water gedoop word noudat hulle net soos ons die Heilige Gees ontvang het?” Toe het hy beveel dat hulle in die Naam van Jesus Christus gedoop word. Daarna het hulle hom gevra om ’n paar dae daar te bly.