2 SAMUEL 2:1-7

2 SAMUEL 2:1-7 NLV

Hierna het Dawid vir die HERE gevra: “Moet ek teruggaan na een van die stede in Juda?” “Ja, gaan,” het die HERE geantwoord. Toe vra Dawid: “Na watter plek toe moet ek gaan?” Die HERE het geantwoord: “Na Hebron toe.” Dawid en sy vroue, Aginoam uit Jisreël en Abigajil die weduwee van Nabal uit Karmel, het daarnatoe gegaan; so ook al sy manskappe met hulle gesinne. Hulle het in die omstreke van Hebron gaan bly. Die leiers van Juda het na Dawid toe gekom en hom as koning oor Juda gesalf. Toe Dawid hoor dat die inwoners van Jabes in Gilead vir Saul begrawe het, stuur hy vir hulle die volgende boodskap: “Mag die HERE julle seën omdat julle getrou was aan julle koning Saul en hom begrawe het. Mag die HERE ook aan julle getrou wees en julle beloon met sy onfeilbare liefde! Ek sal julle ook beloon vir wat julle gedoen het. Maar nou moet julle sterk en moedig wees, want julle koning Saul is dood. Neem kennis dat die inwoners van Juda my as hulle nuwe koning gekroon het.”