Hierna het Dawid vir die HERE gevra: “Moet ek teruggaan na een van die stede in Juda?” “Ja, gaan,” het die HERE geantwoord. Toe vra Dawid: “Na watter plek toe moet ek gaan?” Die HERE het geantwoord: “Na Hebron toe.” Dawid en sy vroue, Aginoam uit Jisreël en Abigajil die weduwee van Nabal uit Karmel, het daarnatoe gegaan; so ook al sy manskappe met hulle gesinne. Hulle het in die omstreke van Hebron gaan bly. Die leiers van Juda het na Dawid toe gekom en hom as koning oor Juda gesalf. Toe Dawid hoor dat die inwoners van Jabes in Gilead vir Saul begrawe het, stuur hy vir hulle die volgende boodskap: “Mag die HERE julle seën omdat julle getrou was aan julle koning Saul en hom begrawe het. Mag die HERE ook aan julle getrou wees en julle beloon met sy onfeilbare liefde! Ek sal julle ook beloon vir wat julle gedoen het. Maar nou moet julle sterk en moedig wees, want julle koning Saul is dood. Neem kennis dat die inwoners van Juda my as hulle nuwe koning gekroon het.” Maar Abner seun van Ner, die bevelvoerder van Saul se leër, het reeds met Saul se seun Is-Boset na Maganajim gegaan. Daar het hy Is-Boset koning oor Gilead, Aser, Jisreël, Efraim, Benjamin en die res van Israel gemaak. Is-Boset was 40 jaar oud toe hy koning van Israel geword het en hy het twee jaar regeer. Net Juda het hulle agter Dawid geskaar. Dawid het Hebron sy hoofstad gemaak en van daar sewe en ’n half jaar oor Juda regeer.
Lees 2 SAMUEL 2
Luister na 2 SAMUEL 2
Deel
Vergelyk alle weergawes: 2 SAMUEL 2:1-11
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's