2 KORINTIËRS 10:1-18

2 KORINTIËRS 10:1-18 NLV

Ek, Paulus, vra julle baie ernstig op grond van die nederigheid en toegeeflikheid van Christus – ek, wat mos, soos gesê word, “gedwee” is teenoor julle as ek bý julle is, maar “manhaftig” wanneer ek van julle af weg is. Ek vra julle mooi, moenie my verplig om, wanneer ek kom, my voorneme uit te voer om dié wat ons daarvan beskuldig dat ons volgens menslike oorwegings optree, met mening aan te vat nie. Ons leef wel in ’n menslike liggaam, maar ons voer die stryd nie met menslike middele nie. Die wapens van ons stryd is nie mensgemaak nie, maar die kragtige gevegstoerusting van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die argumente, asook elke skans wat teen die kennis van God opgerig word. Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak. Ons is ook oorgehaal om met elke ongehoorsaamheid af te reken, sodra julle eie gehoorsaamheid in plek geval het. Julle kyk bloot na die uiterlike. As julle so oortuig is dat julle aan Christus behoort, moet julle dit weer vir julleself uitmaak dat, net soos júlle aan Christus behoort, só ook ons. As ek moontlik oordrewe trots voorgekom het op die volmag wat die Here aan my gegee het, sal ek my nie daarvoor skaam nie. Dit was om julle op te bou, en nie om julle af te breek nie. Ek wil beslis nie die indruk skep dat ek julle met my briewe probeer intimideer nie. Hulle sê mos: “Paulus se briewe is gewigtig en kragtig, maar as hy persoonlik teenwoordig is, is hy maar onindrukwekkend en het sy boodskap maar min om die lyf.” Hulle wat dit kwytraak, moet besef dat daar geen verskil is tussen wat ons in ons afwesigheid in die briewe skryf en wat ons doen as ons by julle teenwoordig is nie. Ons waag dit nie om ons in te deel of te vergelyk met “sekere mense” wat hulleself aanbeveel nie. Hulle het regtig nie insig nie; hulle meet hulleself aan hulle eie maatstaf en vergelyk hulleself net onder mekaar. Wat ons betref, ons sal nie buite perke trots wees nie. Ons bly binne die perk van die grense wat God vir ons uitgemeet het. Dié begrensing sluit julle óók in. Ons het dus nie ons perke oorskry deur tot by julle te kom nie. Ons het tog heel eerste tot by julle gekom met die Goeie Nuus van Christus. Ons is nie buite perke trots nie, dit wil sê, ons spog nie oor ander mense se optredes nie. Ons hoop dat julle geloof sal toeneem en dat ons werkterrein onder julle nog groter sal word. Dan sal ons die Goeie Nuus ook in gebiede kan preek wat anderkant julle geleë is, sonder om te roem op werk wat gedoen is in die werkkring van iemand anders. Die Skrif sê mos: “As jy jou wil beroem, moet jy jou op die Here beroem.” Die eintlike toets lê nie daarin of ’n mens jouself aanbeveel nie, maar of die Here jou aanbeveel.

Video vir 2 KORINTIËRS 10:1-18

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 KORINTIËRS 10:1-18