2 KRONIEKE 25

25
Amasia regeer in Juda
1Amasia was 25 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het 29 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Jehoaddan van Jerusalem. 2Amasia het gedoen wat reg was vir die Here, maar nie met sy hele hart nie.
3Toe Amasia goed gevestig was as koning, het hy die mans tereggestel wat sy pa vermoor het. 4Die kinders van die moordenaars het hy egter nie doodgemaak nie, want hy het opgetree volgens die voorskrifte van die Here in die boek van Moses: “Ouers moet nie doodgemaak word vir die sondes van die kinders nie; en kinders moenie doodgemaak word vir die sondes van hulle ouers nie. Hulle wat aan die dood skuldig is, moet vir hulle eie oortredings doodgemaak word.”#25:4 Vgl Deut 24:16.
5Amasia het die manskappe van Juda bymekaargeroep. Hy het die hele Juda en ook Benjamin volgens familiegroepe ingedeel onder bevelhebbers oor duisend en oor honderd. Hy het die manne van twintig jaar en ouer opgeroep. Daar was 300 000, almal geoefen in die gebruik van spiese en skilde. 6Hy het ook met sowat drie en ’n half ton silwer nog 100 000 ervare soldate uit Israel gehuur.
7Maar ’n man van God het na die koning gekom en gesê: “O koning, moenie soldate van Israel huur nie, want die Here is nie met Israel nie. Hy sal nie die mense van Efraim help nie. 8As jy hulle saam met jou soldate in die geveg laat deelneem, sal julle verslaan word, maak nie saak hoe dapper hulle veg nie, want God het die mag om te help of om omver te werp.”
9Amasia vra toe vir die man van God: “Maar wat dan van die drie en ’n half ton silwer wat ek betaal het om die soldate van Israel te huur?”
Die man van God antwoord hom: “Die Here is in staat om baie meer as dit te gee!” 10Amasia het toe die gehuurde troepe ontslaan en teruggestuur na Efraim toe. Hulle was baie kwaad vir Juda en is woedend huis toe.
11Nogtans het Amasia moed bymekaargeskraap en sy leër na die Soutvallei gelei. Daar het hulle 10 000 Edomiete van Seïr doodgemaak. 12Hulle het ook 10 000 van hulle gevang en van ’n krans afgegooi sodat hulle hulle onder op die rotse te pletter geval het.
13Intussen het die gehuurde soldate wat Amasia huis toe gestuur het om nie saam met hom te veg nie verskeie dorpe van Juda tussen Samaria en Bet-Goron gestroop, 3 000 mense doodgemaak en baie buit saamgeneem.
14Toe koning Amasia terugkeer van die neerlaag wat hy die Edomiete toegedien het, het hy ook afgodsbeelde saamgebring wat hy by die mense van Seïr gevat het. Hy het die beelde vir homself as gode opgestel, voor hulle neergebuig en offers gebring. 15Dit het die Here baie kwaad gemaak en Hy het ’n profeet gestuur om vir Amasia te vra: “Hoekom het u gode van ’n volk aanbid wat nie eens in staat was om hulle eie mense uit u hand te red nie?”
16Maar die koning het hom in die rede geval en gesê: “Wanneer het ek jou raad gevra? Bly stil voordat ek jou doodmaak!”
Die profeet is daar weg, maar het hom gewaarsku: “Ek weet dat God besluit het om u tot niet te maak omdat u dit gedoen het en nie my raad aanvaar het nie.”
17Nadat hy met sy raadgewers beraadslaag het, het koning Amasia van Juda hierdie uitdaging aan Israel se koning Joas seun van Joahas en kleinseun van Jehu gestuur: “Kom, laat ons mekaar in ’n geveg ontmoet!”
18Maar Joas, koning van Israel, het koning Amasia van Juda soos volg geantwoord: “Daar in die Libanonberge het ’n doringbos ’n boodskap na die sederboom gestuur: ‘Gee jou dogter om met my seun te trou.’ Maar op daardie oomblik het ’n wilde dier van die Libanon verbygekom, op die doringbos getrap en dit vermorsel. 19Jy mag baie trots wees omdat jy Edom verslaan het, maar my advies is dat jy tuisbly. Hoekom moet jy moeilikheid soek wat vir jou en die mense van Juda onheil sal bring?”
20Amasia wou egter nie luister nie, want die Here het dit so bewerk om hom in Joas se mag oor te gee omdat hy die gode van Edom aanbid het. 21Koning Joas van Israel het sy leër teen die leër van koning Amasia van Juda gereed gekry. Die twee leërs het by Bet-Semes in Juda teenoor mekaar stelling ingeneem. 22Die leër van Israel het die leër van Juda totaal verslaan sodat hulle huis toe gevlug het. 23Koning Joas van Israel het koning Amasia van Juda by Bet-Semes gevang en na Jerusalem toe geneem. Joas het sy leër beveel om ongeveer 180 meter van die muur van Jerusalem plat te slaan, dit is van die Efraimspoort tot by die Hoekpoort. 24Hy het al die goud en silwer en al die gereedskap weggevat uit die tempel van God wat onder toesig van Obed-Edom was. Hy het die skatte in die koninklike paleis gevat, en ook gyselaars geneem en na Samaria toe teruggegaan.
25Amasia seun van koning Joas van Juda het nog vyftien jaar na die dood van koning Joas van Israel seun van Joahas gelewe. 26Die ander gebeurtenisse tydens Amasia se regering, van die begin tot die einde, is opgeteken in Die boek van die konings van Juda en Israel. 27Nadat Amasia die rug gekeer het op die Here, was daar ’n sameswering teen sy lewe in Jerusalem. Daarom het hy na Lakis toe gevlug. Maar sy vyande het mense agter hom aangestuur en hulle het hom daar doodgemaak. 28Sy liggaam is op ’n perd na Jerusalem toe teruggebring en hy is in die familiegraf in die Dawidstad#25:28 Sommige Hebreeuse manuskripte lees in die stad van Juda. begrawe.

Tans Gekies:

2 KRONIEKE 25: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan