2 KRONIEKE 23

23
Opstand teen Atalia
1In die sewende jaar van Atalia se regering het Jojada die priester besluit om op te tree. Hy het moed geskep en ’n ooreenkoms met vyf leërowerstes aangegaan: Asarja seun van Jerogam, Ismael seun van Joganan, Asarja seun van Obed, Maäseja seun van Adaja en Elisafat seun van Sikri. 2Hierdie manne het deur die hele Juda gegaan en die Leviete en familiehoofde in die dorpe bymekaargemaak. Hulle het opdrag gekry om na Jerusalem toe te kom. 3Hulle het almal by die tempel van God bymekaargekom en ’n verbond met Joas, die jong koning, gesluit.
Jojada het vir hulle gesê: “Die tyd het aangebreek dat die koning se seun moet regeer! Die Here het belowe dat ’n afstammeling van Dawid ons koning sou wees. 4Julle moet soos volg optree: Wanneer die priesters en die Leviete op die Sabbat aan diens kom, moet een derde van hulle as deurwagte dien. 5Nog een derde moet na die koninklike paleis gaan en die oorblywende derde na die Fondamentpoort. Almal wat oor is, moet in die voorhof van die Here se tempel bly. 6Onthou dat net die priesters en Leviete aan diens die tempel van die Here mag binnegaan, want hulle is daarvoor afgesonder. Die res van die mense moet die Here se voorskrifte gehoorsaam en buite bly. 7Leviete, julle vorm die lyfwag van die koning. Hou julle wapens gereed. Enige ongemagtigde persoon wat die tempel binnegaan, moet doodgemaak word. Bly die hele tyd by die koning.”
8Die Leviete en die hele Juda het presies so gedoen soos Jojada die priester beveel het. Elke bevelvoerder het sy manskappe geneem, dié wat op die Sabbat diens moes doen, asook dié wie se verpligtings voltooi was. Jojada die priester het nie toegelaat dat enigiemand huis toe gaan nadat hulle werkskof geëindig het nie. 9Daarna het Jojada die bevelhebbers oor honderd voorsien van spiese en groot en klein skilde wat voorheen aan koning Dawid behoort het en in die tempel van God bewaar is. 10Hy het die wagte rondom die koning geplaas, gereed met hulle wapens. Hulle het ’n ry gevorm van die suidekant van die tempel af, om na die noordekant, en rondom die altaar.
11Toe bring Jojada en sy seuns vir Joas, die koning se seun, en sit die kroon op sy kop. Hulle het ’n afskrif van God se gebooie aan hom gegee en hom tot koning verklaar. Daarna het hulle hom gesalf. Almal het uitgeroep: “Lank lewe die koning!”
Die dood van Atalia
12Toe Atalia hoor hoe mense hardloop en die koning toejuig, het sy gou na die mense by die tempel van die Here gegaan. 13Sy het die pasgekroonde koning gesien wat op sy plek van gesag by die pilaar, by die ingang na die tempel gestaan het. Die leiers en trompetblasers was rondom hom, en mense van oral in die land het gejuig en op trompette geblaas. Sangers met musiekinstrumente het die lofliedere gelei. Toe Atalia dit alles sien, het sy haar klere in wanhoop geskeur en geskreeu: “Verraad! Verraad!”
14Jojada die priester beveel toe die leiers wat in bevel was van die soldate: “Neem haar uit die tempel en maak enigeen met die swaard dood wat probeer om haar te red. Moet haar nie hier in die tempel van die Here doodmaak nie.” 15Hulle het haar gevang en haar tot buite die Perdepoort by die paleis gevat. Daar het hulle haar doodgemaak.
Jojada se godsdienstige hervormings
16Daarna het Jojada ’n verbond gemaak tussen hom, die koning en die volk dat hulle ’n volk sal wees wat die Here dien. 17Al die mense het na die Baältempel toe gegaan en dit afgebreek. Hulle het die altare vernietig en die afgodsbeelde verpletter. Hulle het ook Mattan, die priester van Baäl, voor die altare doodgemaak.
18Jojada het die toesig oor die huis van die Here weer aan die Levitiese priesters toevertrou, volgens die voorskrifte van Dawid. Hulle moes ook brandoffers vir die Here bring soos voorgeskryf deur Moses, met gejuig en sang soos Dawid bepaal het. 19Hy het ook poortwagters by die tempel van die Here aangewys om te sorg dat niemand kon binnegaan wat seremonieel onrein is nie.
20Toe het die bevelvoerders oor honderd, die hooggeplaastes, die volksleiers en al die burgers van die land die koning begelei uit die tempel van die Here. Hulle het deur die boonste poort na die paleis gegaan en die koning op die koninklike troon laat sit.
21Al die burgers van die land het gejuig en dit was rustig in die stad omdat Atalia dood was.

Tans Gekies:

2 KRONIEKE 23: NLV

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan