2 KRONIEKE 1:7-13

2 KRONIEKE 1:7-13 NLV

Daardie nag het God in ’n droom aan Salomo verskyn en gesê: “Wat wil jy hê? Vra, en Ek sal dit vir jou gee!” Salomo het God geantwoord: “U het oorvloedige troue liefde aan my pa Dawid betoon, en my in sy plek koning gemaak. Nou, HERE God, bevestig tog u belofte aan my pa Dawid, want U het my koning gemaak oor ’n volk wat so baie is soos die stof van die aarde! Gee my tog wysheid en kennis sodat ek hulle reg kan regeer, want wie kan oor hierdie groot volk van U regeer?” God sê toe vir Salomo: “Omdat dit jou hartsbegeerte is; omdat jy nie vir persoonlike rykdom en eer, of die vernietiging van jou vyande, of selfs ’n lang lewe gevra het nie; omdat jy eerder gevra het vir wysheid en kennis om my volk behoorlik te regeer; sal Ek sekerlik vir jou die wysheid en kennis gee waarvoor jy gevra het. Maar Ek sal ook vir jou rykdom, besittings en eer gee soos geen ander koning voor jou of na jou ooit sal hê nie.” Daarna het Salomo vanaf die tent van ontmoeting op die hoogte in Gibeon na Jerusalem toe teruggegaan. Hy het oor die hele Israel regeer.