1 TESSALONISENSE 2:9-16

1 TESSALONISENSE 2:9-16 NLV

Broers en susters, julle onthou mos nog hoe hard ons gewerk en geswoeg het. Terwyl ons dag en nag gewerk het om nie vir enigeen van julle ’n las te wees nie, het ons God se Goeie Nuus aan julle verkondig. Julle én God is getuies van hoe toegewyd, opreg en onberispelik ons in ons optrede was teenoor julle wat glo. Julle weet ook hoe ons – soos ’n pa met sy eie kinders maak – julle elkeen aangespoor en aangemoedig het om tot eer van God te lewe. Hy roep julle om deel te hê aan sy koningsheerskappy en heerlikheid. Verder sal ons God aanhou dank dat julle sy woord, wat julle by ons gehoor het, aangeneem het nie as mensewoorde nie, maar soos dit werklik is, as Gód se woord. Dié woord is aan die werk in julle wat glo. Broers en susters, julle het navolgers geword van God se gemeentes in Judea – dit wil sê die Christene daar. Julle het net so swaar onder julle volksgenote gely as wat hulle onder die Jode gely het. Die Jode het die Here Jesus en die profete doodgemaak en ons vervolg. Verder stel hulle God nie tevrede nie, ja, hulle is gekant teen alle mense deur te probeer keer dat ons aan die nie-Joodse nasies vertel hoe om verlos te word. Deur dit te doen, is hulle gedurig besig om hulle sondes meer te maak. God se oordeel het egter nou uiteindelik oor hulle gekom.