1 SAMUEL 6:1-13

1 SAMUEL 6:1-13 NLV

Die ark van die HERE was sewe maande lank in die land van die Filistyne. Toe roep die Filistyne hulle priesters en waarsêers bymekaar en vra vir hulle: “Wat moet ons doen met die ark van die HERE? Sê vir ons hoe ons dit na sy eie plek toe kan terugstuur.” Die priesters en waarsêers het gesê: “Wanneer julle die ark van die God van Israel terugstuur, moet julle dit nie net so terugstuur nie. Stuur ’n skuldoffer daarmee saam. Wanneer julle gesond word, sal julle weet dat dit Hy was wat julle so swaar getref het.” “Watter soort skuldoffer moet ons stuur?” vra die Filistyne. “Aangesien die plaag julle en julle vyf heersers getref het,” antwoord hulle, “moet julle vyf goue swere en vyf goue muise maak, net soos dié wat julle land laat swaarkry het. Sodoende sal julle eer betoon aan die God van Israel. Dalk sal Hy dan ophou om julle, julle gode en julle land te teister. “Moenie hardkoppig en opstandig wees soos die farao en die Egiptenaars was nie. Hulle wou Israel nie toelaat om te gaan nie totdat God hulle met verskriklike plae getref het. “Bou nou ’n nuwe wa en kry twee koeie wat pas gekalf het en nog nooit ingespan is nie. Span die koeie in, maar hou hulle kalwers op hok. Sit die ark van die HERE op die wa. Julle moet die goue muise en swere in ’n houer sit en dit langs die ark op die wa laai. Dan moet julle die koeie toelaat om te gaan waar hulle wil. As hulle oor ons land se grens gaan in die rigting van Bet-Semes, sal ons weet dit was die HERE wat hierdie groot ramp oor ons gebring het. As hulle nie soontoe gaan nie, sal ons weet dat die plaag blote toeval was en dat dit glad nie die HERE was wat dit gestuur het nie.” Hierdie voorskrifte is uitgevoer. Twee koeie met pasgebore kalwers is voor die wa ingespan en hulle kalwers is op hok gesit. Die ark van die HERE en die kis met die goue muise en swere is op die wa gelaai. En sowaar, daar gaan die koeie reguit met die pad na Bet-Semes toe terwyl hulle loop en bulk! Die Filistynse heersers het hulle tot by die grens by Bet-Semes gevolg. Die inwoners van Bet-Semes was besig om koring in die vallei te oes. Toe hulle die ark sien, het hulle gejuig.