1 SAMUEL 10:1-6

1 SAMUEL 10:1-6 NLV

Samuel neem toe ’n kruik met olie, gooi dit op Saul se kop uit, soen hom en sê: “Die HERE het jou gesalf as leier oor sy besitting. Wanneer jy vandag van my af weggaan, sal jy twee persone by Ragel se graf naby Selsag op die grens van Benjamin teëkom. Hulle sal vir jou vertel: ‘Die donkies wat jy gesoek het, is gekry. Nou is jou pa oor jou bekommerd en vra: Ek wonder waar is my seun!’ “Wanneer jy by die groot boom by Tabor kom, sal jy drie persone sien wat opgaan om God by Bet-El te dien. Een sal drie jong bokkies dra, die tweede drie brode en die derde ’n sak wyn. Hulle sal jou groet en twee brode aanbied. Jy moet dit aanvaar. “Daarna sal jy aankom by Gibea-van-God waar die garnisoen van die Filistyne is. Naby die dorp sal jy ’n klompie profete teëkom op pad vanaf die altaar op die hoogte. Hulle sal met begeleiding van ’n harp, ’n tamboeryn, ’n fluit en ’n lier profeteer. Dan sal die Gees van die HERE met krag op jou kom en jy sal soos hulle profeteer en ’n ander mens word.