Nou kan iemand vra: “Hoe sal die dooies wees wanneer hulle opgewek word? Watter soort liggame sal hulle hê?”
Jou onverstandige mens, as jy saad in die grond sit, ontkiem dit tog nie tot nuwe lewe as dit nie eers self doodgegaan het nie. Wat jy in die grond sit, is nie die plant wat gaan groei nie, maar bloot ’n droë koringkorreltjie of watter ander saad jy ook al plant. Dan gee God daaraan ’n nuwe liggaam – presies soos Hy dit bepaal het. Van elke soort saad groei daar ’n ander soort plant. En net soos daar verskillende soorte saad en plante is, so is daar ook verskillende soorte vleis – dié van mense en diere en voëls en visse is almal verskillend.
Verder is daar ook hemelse liggame en aardse liggame. Die prag van die hemelliggame verskil van dié van aardse liggame. Die stralende prag van die son verskil van dié van die maan, en die sterre het weer hulle eie prag. Die een ster se prag verskil ook weer van die ander een.
Dieselfde is die geval met die opstanding van die dooies. Ons aardse liggame, wat gewoonweg sal sterf en vergaan, sal anders wees wanneer hulle opgewek word, want hulle sal nooit weer sterf nie. Daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid. Daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag. ’n Fisiese liggaam word gesaai, ’n geestelike liggaam word opgewek. Ja, net soos daar fisiese liggame is, so is daar ook geestelike liggame.
Die Skrif sê vir ons: “Die eerste mens, Adam, het ’n lewende, fisiese persoon geword.” Maar die laas-te Adam – dit is Christus – het ’n lewendmakende gees-telike Persoon geword.
Die natuurlike, fisiese liggaam het eerste gekom, daarna die geestelike een. Adam, die eerste mens, was uit die stof van die aarde gemaak, terwyl Christus, die tweede mens, van die hemel kom. Elke menslike wese het ’n aardse liggaam, net soos dié van Adam, maar ons hemelse liggame sal net soos dié van Christus wees. Net soos ons nou ewebeelde van Adam is, die mens uit die aarde, so sal ons eendag ewebeelde van Christus wees, die mens uit die hemel.