1 KORINTIËRS 12:1-8

1 KORINTIËRS 12:1-8 NLV

En nou, broers en susters, kom ek by julle volgende navraag, naamlik oor die gawes van die Gees. Ek wil hê julle moet hieroor goed ingelig wees sodat julle julle gawes reg sal gebruik. Julle weet hoe julle destyds toe julle nog ongelowiges was, onder die aantrekkingskrag van die verskillende afgode herwaarts en derwaarts rondgesleep is – en dit nogal deur beelde wat nie ’n woord kan praat nie! Daarom wil ek nou hê julle moet weet dat iemand wat sê: “Vervloek is Jesus,” definitief nie onder die invloed van die Gees van God praat nie. Aan die ander kant is dit net die Heilige Gees wat dit vir iemand moontlik maak om te verklaar: “Jesus is die Here.” Daar is ’n hele verskeidenheid geestelike gawes, en tog kom hulle van dieselfde Gees. En daar is ’n hele verskeidenheid bedienings, maar ons dien dieselfde Here. Daar is talle aktiwiteite in die gemeente, maar dit is dieselfde God wat al hierdie dinge kragtig in ons almal aktiveer. Elkeen van ons ontvang ’n manifestasie van die Gees om die gemeente te bevoordeel. Aan die een gee die Gees die bekwaamheid om goddelike wysheid te verkondig, aan ’n ander gee Hy die gawe van spesiale kennis.