PSALMS 143:1-12

PSALMS 143:1-12 AFR83

'n Psalm van Dawid. Hoor my gebed, Here, luister tog na my smeking. U is getrou en regverdig, antwoord my tog! Moet tog nie 'n regsaak teen my begin nie, want niemand wat leef, is voor U onskuldig nie! 'n Vyand vervolg my, hy trap my in die grond, hy hou my gevange in die donker. Ek is soos iemand wat lankal dood is. Ek het alle moed verloor, ek is verslae. Ek dink aan die verre verlede, ek peins oor alles wat U gedoen het en oor die werk van u hande dink ek na. Ek strek my hande uit in gebed na U toe, ek is voor U soos 'n uitgedorde land. Sela Antwoord my tog gou, Here, ek is heeltemal gedaan. Moet tog nie van my af wegkyk dat ek word soos dié wat sterwe nie. Laat my elke môre u liefde ondervind, want in U stel ek my vertroue. Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop is op U gevestig. Red my van my vyande, Here, want by U skuil ek. Leer my om u wil te doen, want U is my God! Laat u goeie Gees my op 'n gelyk pad lei. Ter wille van u Naam, Here, laat my lewe. U is regverdig, red my uit die nood. Vernietig in u trou my vyande, laat al my teëstanders omkom, want ek is u dienaar.

Gratis leesplanne en oordenkings oor PSALMS 143:1-12

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid