PSALMS 143:1-12

PSALMS 143:1-12 Die Boodskap (DB)

Here, help my asseblief as ek bid. Antwoord my tog as ek by U pleit om my te help. Luister asseblief na my gebed. U kan ek vertrou. U is goed vir u kinders. Moet asseblief nie sê dat ek skuldig is voor U nie. In elk geval, daar is niemand op aarde wat onskuldig voor U is nie. Selfs nie eens hulle wat U dien, is sonder sonde nie. Ook ek is skuldig. Mense wat my nie liefhet nie, wil my in die grond in trap. Hulle wil net hê dat dit met my sleg moet gaan. Hulle vat die lig uit my lewe weg. My lewe het vir my alle betekenis verloor. Ek het begin moed verloor. Ek was baie bang en benoud. Toe het ek onthou dat U van die begin af gewys het hoe sterk U is. Ek het nagedink oor hoe U die hele wêreld gemaak het. Ek kan nie sonder U klaarkom nie. Ek roep na U. Soos ’n dor stuk land niks is sonder water nie, so kan ek nie sonder U verder lewe nie. Help my asseblief tog gou, Here. Ek is besig om dood te gaan. Moet my nie ignoreer nie, anders gaan ek nog gouer dood. Elke dag wil ek hoor hoe U my liefhet, want ek vertrou U. Lei my asseblief op die regte lewenspad. Met my hele lewe is ek van U afhanklik. Red my van hulle wat my nie liefhet nie, Here. U beskerm my. Wees vir my soos ’n onderwyser. Leer my om te doen wat U wil hê, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei sodat ek min probleme op my lewenspad het. Here, gee my krag om reg te lewe sodat U die eer daarvoor kry. Help my asseblief uit my nood uit. U tree mos reg teenoor u kinders op. Sit hulle wat my nie liefhet nie, asseblief op hulle plek omdat U my liefhet. Gee dat hulle wat nie van my hou nie, sal doodgaan omdat ek U dien.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid