Psalms 143:1-12

Psalms 143:1-12 AFR20

'n Psalm. Van Dawid. HERE, hoor my gebed, luister na my smeekgebed; antwoord my in u trou, in u geregtigheid. Moet net nie u dienskneg voor die gereg daag nie; want niemand wat leef, is voor U regverdig nie. Ja, vyande agtervolg my, hulle verpletter my lewe teen die grond; hulle laat my woon in donker plekke, soos mense wat lankal dood is. My gees in my weifel; in my binneste is my hart verbyster. Ek dink aan dae lank gelede, ek mymer oor al u dade; oor die werk van u hande dink ek na. Ek strek my hande uit na U; my diepste wese smag na U soos dor grond. •Sela U moet my gou antwoord, HERE; my gees is gedaan. Moet tog nie u gesig vir my verberg nie; dan word ek net soos hulle wat in die put afdaal. Laat my in die môre van u troue liefde hoor, want op U vertrou ek. Wys my die pad wat ek moet loop, want na U is my verlange. Red my van my vyande, HERE; na U vlug ek. Leer my om te doen wat vir U aanvaarbaar is, want U is my God. U goeie Gees moet my lei op gelyk grond. Ter wille van u Naam, HERE, moet U my in die lewe hou; deur u regverdige optrede moet U my uitlei uit die nood; en in u troue liefde moet U my vyande vernietig. Maak almal tot niet wat my lewe bedreig, want ek is u dienskneg.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Psalms 143:1-12

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid