Genesis 6
6
Noag en die groot vloed
1 Toe die mense meer begin word oor die hele aarde en daar dogters vir hulle gebore is, 2het die hemelwesens gesien dat die dogters van die mense mooi was. Hulle het toe vir hulle vroue geneem, wie hulle ook al verkies het.
3Die Here het toe gesê: “My gees sal nie vir altyd in die mens bly nie, omdat hy ook vlees is. Sy lewensdae sal honderd-en-twintig jaar wees.”
4 Die reuse was in daardie tyd en ook daarna op die aarde, solank as wat die hemelwesens by die dogters van die mense ingegaan en vir hulleself kinders verwek het. Daardie kinders was die helde uit die ou tyd, die beroemde manne.
5 Toe die Here sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot is, en dat alles wat hy in sy hart bedink, altyd net sleg is, 6 was die Here jammer dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom tot in sy hart gegrief. 7 Toe sê die Here: “Ek sal die mens wat Ek geskep het, van die aardbodem af uitwis – mense sowel as diere, ook kruipende diere en die voëls van die hemel, want Ek is jammer dat Ek hulle gemaak het.”
8Maar Noag het guns gevind in die oë van die Here. 9 Hier volg die familiegeskiedenis van Noag. Noag was 'n •regverdige man, onberispelik in sy optrede tussen sy tydgenote. Hy het naby God geleef. 10Noag het drie seuns verwek: Sem, Gam en Jafet.
11Die aarde was deur en deur sleg voor God;
die aarde was vol geweld.
12 God het gekyk na die aarde,
en kyk, dit was deur en deur sleg;
want alle mense het 'n verderflike pad geloop op die aarde.
13 God het vir Noag gesê: “Die einde van alle mense het, volgens my besluit, aangebreek; want deur hulle toedoen is die aarde vol geweld. Kyk, Ek gaan hulle verdelg saam met die aarde. 14Maak vir jou 'n ark van goferhout. Jy moet die ark maak met verskillende ruimtes en dit van binne en van buite met pik bestryk. 15Dit is hoe jy dit moet maak: die lengte van die ark driehonderd •el, sy breedte vyftig el en sy hoogte dertig el. 16'n Dak moet jy vir die ark maak – een el vanaf die boonste rand moet jy dit afrond. Die opening van die ark moet jy aan die sykant insit. 'n Onderste, middelste en derde verdieping moet jy maak. 17 En Ek, kyk, Ek gaan vloedwaters oor die aarde bring om alle vlees waarin die asem van lewe is onder die hemel te verdelg. Alles wat op die aarde is, sal omkom. 18 Maar met jou sluit Ek my verbond. Jy sal in die ark ingaan, jy en jou seuns en jou vrou en jou seuns se vroue saam met jou. 19Van alles wat lewe, van alle vlees, moet jy twee van elk na die ark bring om hulle saam met jou aan die lewe te hou. Manlik en vroulik moet hulle wees. 20Van elke soort voël, van elke soort dier, van elke soort kruipende dier op die grond, sal twee van elk na jou toe kom om aan die lewe te bly. 21 En jy, neem van elke soort kos wat geëet word, en bring dit bymekaar by jou. Dit moet vir jou en vir hulle as kos dien.”
22 Noag het dit toe gedoen. Net soos wat God hom beveel het, so het hy gemaak.
Okuqokiwe okwamanje:
Genesis 6: AFR20
Qhakambisa
Dlulisela
Kopisha
Ufuna ukuthi okuvelele kwakho kugcinwe kuwo wonke amadivayisi akho? Bhalisa noma ngena ngemvume
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.