Genesis 2
2
1 So is die hemel en die aarde en alles wat daarby hoort, voltooi.
2 God was op die sewende dag
klaar met sy werk
wat Hy gedoen het;
en Hy het op die sewende dag
gerus van al sy werk
wat Hy gedoen het.
3God het die sewende dag geseën;
Hy het dit heilig verklaar,
want op dié dag het Hy gerus
van al sy werk –
dit wat God geskep het deur dit te maak.
Mense in die tuin van Eden
4Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskep is. Die dag toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het
5– geen struike van die veld was al op die aarde nie, en geen gewasse van die veld het al uitgespruit nie; want die Here God het nog nie laat reën op die aarde nie, en daar was nie 'n mens om die grond te bewerk nie, 6maar 'n ondergrondse stroom water het uit die aarde opgewel en die hele oppervlakte van die grond nat gemaak –
7 het die Here God die mens met stof uit die grond gevorm, en in sy neus die asem van lewe geblaas. So het die mens 'n lewende wese geword.
8 Die Here God het 'n tuin aangeplant in Eden, in die ooste en die mens wat Hy gevorm het, daar geplaas. 9 Die Here God het uit die grond allerhande bome laat uitspruit – 'n genoeë om na te kyk en goed om van te eet. Die boom van die lewe was in die middel van die tuin, en ook die boom van die kennis van goed en kwaad.
10'n Rivier vloei uit Eden om die tuin nat te maak, en van daar af vertak dit. Dit word vier hoofstrome. 11Die naam van die eerste is Pison. Dit is die een wat vloei om die hele land Gawila, waar daar goud is. 12Die goud van daardie landstreek is goed. Daar is ook balsemhars en •oniksgesteentes. 13Die naam van die tweede rivier is Gihon. Dit is die een wat om die hele land Kus vloei. 14Die naam van die derde rivier is Hiddekel. Dit is die een wat aan die oostekant van Assirië vloei. Die vierde rivier is die Eufraat.
15Die Here God het die mens geneem en hom in die tuin van Eden geplaas om dit te bewerk en op te pas. 16 Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome van die tuin mag jy na hartelus eet, 17 maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie, want die dag wanneer jy daarvan eet, sal jy beslis sterf.”
18 Die Here God het ook gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom 'n helper maak, as sy gelyke.” 19 Toe vorm die Here God uit die grond al die diere van die veld en al die voëls van die hemel, en Hy bring hulle na die mens om te sien wat hy hulle sou noem; en wat ook al die mens 'n lewende wese genoem het, dit was sy naam. 20So het die mens name gegee vir al die mak diere en die voëls van die hemel en al die diere van die veld. Maar vir homself het hy nie 'n helper, as sy gelyke, gevind nie.
21 Die Here God het toe die mens in 'n diep slaap laat val, en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vleis toegemaak. 22 Die Here God het toe die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, omgebou tot 'n vrou, en haar na die mens gebring. 23 Toe sê die mens:
“Hierdie een is dié keer
been uit my eie gebeente,
vlees uit my eie vlees.
Hierdie een sal vrou genoem word,
want uit die man is sy geneem.”
24 Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en hom aan sy vrou verbind, en hulle sal een vlees word.
25 Hulle twee was naak, die mens en sy vrou, maar hulle was nie skaam vir mekaar nie.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.