1 KORINTIËRS 6
6
Vermy hofsake met medegelowiges
1Wanneer een van julle ’n geskil met ’n medegelowige het, gaan julle werklik so ver om ’n sekulêre hof om ’n beslissing te vra in plaas van julle medegelowiges? 2Besef julle dan nie dat ons Christene eendag die wêreld gaan oordeel nie? Terwyl julle dan die wêreld gaan oordeel, beskou julle julleself dan onbevoeg om selfs die kleinste ou sakies te beoordeel? 3Besef julle nie dat ons selfs oor engele gaan oordeel nie? Behoort julle dan nie oor gewone aardse verskille te kan oordeel nie? 4As julle sulke alledaagse geskille het, waarom laat julle buitestanders daaroor uitspraak gee – mense wat nie eers in die gemeente gerespekteer word nie? 5Ek sê dit om julle skaam te laat kry. Is daar dan regtig niemand in julle gemeente wat oor genoeg wysheid beskik om oor geskille tussen julle te beslis nie? 6Maar nee, as gelowiges daag julle mekaar voor die hof en dit voor ongelowige regters!
7Bloot die feit dat julle hofsake onder mekaar het, is al klaar vir julle ’n neerlaag. Hoekom dan nie maar die onreg ly en dit daarby laat nie? Hoekom laat julle julle nie maar eerder benadeel nie? 8In plaas daarvan is julle die mense wat onreg doen en ander benadeel en julle doen dit nogal aan medegelowiges#6:8 Grondteks broers..
Julle moet seksuele en alle ander sondes vermy
9Besef julle dan nie dat mense wat ’n sondige lewe lei, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie. Mense wat ’n onsedelike lewe lei, afgodsdienaars, egbrekers, manlike prostitute en die mans wat met hulle omgaan, 10diewe, gierigaards, drinkers, kwaadpraters, swendelaars – nie een van hierdie mense sal deel kry aan die koninkryk van God nie. 11Daar was ’n tyd toe party van julle presies so was, maar nou is julle sonde afgewas en God het julle aan Homself toegewy#6:11 Of geheilig.. Julle is vrygespreekte mense op grond van wat die Here Jesus Christus en die Heilige Gees van God vir julle gedoen het.
12Jy kan dalk sê: “Ek mag nou enigiets doen.” Maar ek sal daarop antwoord: “Nie alles is vir jou goed nie. Selfs al sê jy ‘ek mag enigiets doen’, mag ek my nie deur enigiets laat verslaaf nie.” 13Jy sê: “Kos is vir die maag en die maag is vir kos.” Dis waar, maar God sal eendag albei hierdie dinge tot niet maak. Ons liggame is nie bedoel vir seksuele losbandigheid nie. Hulle is daar vir die Here, net soos die Here sorg dra vir ons liggame. 14God sal ons deur sy wonderlike krag opwek, net soos Hy ons Here opgewek het.
15Besef julle nie dat ons liggame deel is van Christus nie? Sal ’n mens dan jou liggaam wat aan Christus behoort, met ’n prostituut verenig? Dit kan tog nie! 16Of dink julle nie daaraan dat iemand wat homself aan ’n prostituut verbind, liggaamlik met haar een word nie? Die Skrif sê tog: “Die twee sal tot een liggaam verenig word.”#6:16 Gen 2:24. 17Daarteenoor word dié wat hulle aan die Here verbind, geestelik met Hom een.
18Vlug dus weg van seksuele losbandigheid. Geen ander sonde beïnvloed ’n mens se liggaam so direk soos hierdie een nie. Want as jy seksuele losbandigheid bedryf, sondig jy teen jou eie liggaam. 19Of verstaan julle nie dat julle liggame ’n tempel van die Heilige Gees is wat in julle woon en deur God aan julle gegee is nie? Julle behoort nie aan julleself nie, 20want julle is teen ’n duur prys gekoop. Daarom moet julle God met julle liggaam verheerlik.
Seçili Olanlar:
1 KORINTIËRS 6: NLV
Vurgu
Paylaş
Kopyala
Önemli anlarınızın tüm cihazlarınıza kaydedilmesini mi istiyorsunuz? Kayıt olun ya da giriş yapın
2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011