YouVersion Logo
Search Icon

Delf dieper deur RomeineSample

Delf dieper deur Romeine

DAY 25 OF 25

Paulus groet almal, maar waarsku gelowiges om weg te bly van dwaalleraars (Romeine 16:1-27)

Paulus sluit sy brief af met uitgebreide groete aan 27 individuele mense en 3 families (16:1-16). Hy waarsku die gelowiges om weg te bly van die dwaalleraars (16:17-20) en dra ook die persoonlike groete van Paulus se metgeselle aan die gemeente oor (16:21-23) en sluit met ‘n eerbetoon aan God in Christus af (16:25-27)

Persoonlike groete van Paulus (16:1-16)

Paulus sluit sy brief aan die Romeine af met 'n sterk aanbeveling van Febe, 'n dienares (diaken) van die gemeente in Kenchreë, die oostelike hawe van Korinte, en roep die gemeente van Rome op om haar met eerbied te ontvang en te ondersteun in haar bediening. Sy het heel moontlik die brief aan die Romeine gaan aflewer.

Paulus stuur groete aan 27 individuele mense en 3 families, wat getuig van die diverse samestelling van die vroeë kerk.

Van die meeste het ons nie baie inligting nie, maar ek lig hier ‘n paar besonderhede uit:

  • Priska en Akwila was tentmakers soos Paulus en sy medewerkers in Christus Jesus. Hulle het op baie maniere hulle lewens vir Paulus op die spel geplaas (moontlik tydens die opstand in Efese) en het ook vir Apollos onderrig in die Evangelie (Hand. 19). Hulle was waarskynlik vermoënd met huise in Rome sowel as in Efese. Hulle het ook aan die hoof gestaan van ‘n kerk in hulle huis.
  • Epenetus was die eerste bekeerling uit die provinsie Asië (Turkye), waarskynlik op Paulus se eerste sendingreis.
  • Maria was iemand wat bekend was vir haar onvermoeide ywer vir die gemeente van Rome. Sy was dus iemand anders as die vyf Marias wat in die Evangelies genoem word.
  • Andronikus en Junia, waarskynlik ‘n egpaar, was ook Jode, soos Paulus, en saam met hom in die gevangenis, hoewel ons nie presies weet waar nie. Hulle was hoog aangeskrewe by die apostels. Die Grieks kan selfs dui daarop dat hulle apostels was, waarskynlik in die sin van sendelinge.
  • Ampliatus was ‘n geliefde vriend in die Here vir Paulus.
  • Urbanus was ‘n medewerker.
  • Stagis was ook ‘n geliefde medewerker.
  • Apelles was iemand gerespekteer vir die beproewinge wat hy deurstaan het.
  • Paulus groet ook die familie van Aristobulus.
  • Herodion was ‘n volksgenoot van Paulus.
  • Die familie van Narsissus “wat in die Here is” het waarskynlik ‘n huiskerk gehuisves.
  • Trifena en Trifosa was harde werkers vir die Here, moontlik susters of selfs ‘n tweeling.
  • Persis was ‘n geliefde wat baie hard vir die Here gewerk het.
  • Rufus was waarskynlik die seun van Simon van Sirene wat Jesus se kruis gedra het (Mark. 15:21)
  • Rufus se moeder was vir Paulus soos 'n moeder.
  • Ons weet min van Asinkritus, Flegon, Hermes, Patrobas, Hermas, en die broers wat saam met hulle is.
  • Paulus groet ook vir Filologus en Julia, Nereus en sy suster Olimpas, en al die heiliges saam met hulle.

Bly weg van die dwaalleraars (16:17-20)

Paulus doen ook 'n beroep op die gemeente om mense in die oog te hou wat verdeeldheid en struikelblokke veroorsaak, dinge wat in stryd is met die leer waarin hulle onderrig is.

Sy kort opdrag is: “Bly weg van hulle af.”

Die rede is dat hierdie soort mense nie Christus ons Here dien nie, maar hulle eie maag, dws hulle eie belang. Met strelende woorde en vleitaal mislei hulle die harte van naïewe mense.

Calvyn sê in sy kommentaar op hierdie verse dat die mense wat verdeeldheid en struikelblokke veroorsaak, sal voorgee dat hulle vir vrede en eenheid is, maar die feit verberg dat die eenheid wat hulle voorstaan, gebaseer is op leuens en goddelose dogmas.

Hy teiken spesifiek die Katoliekgesinde mense wat die Protestante daarvan beskuldig het dat hulle die kerk verdeel het, en spreek dit soos volg uit:

"Paul clearly shows, that he did not condemn all kinds of discords, but those which destroyed consent in the orthodox faith."

Persoonlike groete van Paulus se metgeselle (16:21-24)

Paulus dra ook die groete van Timoteus, sy medewerker, sowel as Lucius, Jason en Sosipater, sy volksgenote oor. Daar is ook groete van Gaius wat hulle gasheer in Korinte was. Hy is moontlik dieselfde persoon wat in 1 Korintiërs 1:14 en Handelinge 20:4 genoem word. So ook van Erastus wat waarskynlik die stadstesourier van Korinte was (’n inskripsie met sy naam daarop is in Korinte ontdek) sowel as Kwartus.

Tertius, die sekretaris wat die brief geskryf het, groet hulle ook in sy eie woorde.

Lof aan God (16:25-27)

Paulus sluit met 'n lofprysing aan God. Die evangelie van Jesus Christus is die openbaring van 'n misterie wat voorheen verborge was, maar nou aan alle nasies bekend gemaak is om geloofsgehoorsaamheid te bring. Paulus bevestig dat alle eer en heerlikheid aan die alwyse God deur Jesus Christus behoort.

Boodskap en betekenis

Romeine 16 is Paulus se hartlike afsluiting van sy brief aan die Romeine, waarin hy sy diepe verbintenis tot die gemeenskap van gelowiges toon deur persoonlike groete aan 27 individue en 3 families. Hy beklemtoon die rol van Febe, 'n diaken van Kenchreë, as 'n vertroueling wat moontlik die brief oorgedra het, en gee spesiale erkenning aan medewerkers soos Priska en Akwila, en Andronikus en Junia, wat belangrike rolle in die vroeë kerk gespeel het.

Paulus waarsku die gemeente om versigtig te wees vir dwaalleraars wat verdeeldheid bring en wys op die belangrikheid van getrouheid aan die ware leer van Christus. Hy dra ook die groete van sy metgeselle oor, waaronder Timoteus en Tertius, die skrywer van die brief, en sluit af met 'n lofprysing aan God, wie se evangelie nou openbaar gemaak is vir die redding van alle nasies.

Day 24

About this Plan

Delf dieper deur Romeine

Delf dieper deur Paulus se meesterlike uiteensetting van die evangelie in Romeine. Elke dag bied opeenvolgende gedeeltes uit Romeine met insiggewende kommentaar op die kernwaarhede van redding deur geloof, die vreugde van 'n regte verhouding met God, en die krag van die Heilige Gees. Dit lei jou om die praktiese implikasies van jou geloof te ontdek, die beloftes van God te omhels, en jou lewe in Sy diens te stel. Of jy vir die eerste keer Romeine lees of jou bestaande kennis wil verdiep, hierdie plan sal jou inspireer en lei na 'n vars verhouding met die Here Jesus Christus.

More