’n Oproep tot Dienende LeierskapSample
Filosofie van leierskap
Christelike gemeenskappe is nie verhewe bo die soort heldeverering van bekendes wat in soveel kulture regoor die wêreld voorkom nie. Christelike ekshibisionisme is springlewendig en gesond in dele van die kerk en dit is belangrik vir ons om eerlik te wees oor die gevare van hierdie soort praktyke. Ons moet bly soek na duidelike en hoopgewende perspektiewe op die soort leierskapfilosofie van Jesus en ander Bybelse leiers.
Ek is eenkeer genooi om by ’n konferensie te praat, en op die geleentheidsplakkaat het ek die titel “Apostel” gekry om my meer indrukwekkend voor te stel en meer konferensiegangers te lok. Die organiseerders was hoofsaaklik gefokus op bywoningsgetalle. En tog, wanneer Paulus ’n lys van verskeie leierskapgawes in Efesiërs 4 gee, maak hy dit duidelik dat die doel van daardie gawes is om God se mense te verenig, toe te rus, volwasse te maak, op te bou en aan te moedig. Leierskapfunksies word altyd deur God gegee vir ’n roeping en doel – nie vir selfsugtige gewin nie. Leierskapgawes bestaan tot eer van God en die welsyn van sy mense. Jesus gee gawes om sy kerk op te bou. Dit is die moeite werd om jouself af te vra:
- Vir wie wend ek tans my gawes aan?
- Wie trek voordeel uit my leierskap?
- Hoe baat hulle daarby?
Onthou ook dat die persoon met ’n gawe nie die eienaar van daardie gawe is nie. Hy of sy hou bloot die gawe, in plaas van iemand anders. Selfs Paulus het nie na homself as “apostel Paulus” verwys nie. Hy was eerstens net Paulus – en daarna ’n apostel.
Jesus, die modelleier, nooi ons om sy weë te leer. As leiers moet ons ’n gemeenskapskultuur skep om die las te verlig en die juk te versag van diegene wat ons lei. Ons moet doelbewus die fokus van onsself en ons eie begaafdheid afhaal, en liefde gee aan die mense wat ons geroep is om te dien. Wees asseblief verseker dat wat Christenleierskap betref, dit nie oor jou aansien gaan nie. Nederigheid is al wat tel. Daar is ’n verskil tussen mense met ’n volmaak geslypte beeld, en mense wat voor God neerbuig. Diegene wat voor God kan kniel, kan voor enige mens verskyn. Iemand in ’n leiersposisie is nooit belangriker as iemand sonder ’n leierskaptitel nie. Of jy nou ’n leier is of nie, jou waarde word bepaal deur jou onvoorwaardelike aanvaarding deur God.
Hierdie leesplan kom tot ’n einde, maar jou reis as dienende leier begin dalk nou eers. Mag jy geïnspireer en vertroos word deur die waarheid dat jy jou leierskapgawes net as rentmeester namens God en die mense wat Hy liefhet, inspan. Jou lewe is nie jou eie nie. Vertrou God om jou kragtig te gebruik in hierdie geslag. Vertrou Hom om vir jou te veg en jou te beskerm wanneer jou reputasie in twyfel getrek word, en mag jy rus vind in die wete dat jou aansien by Hom onbevlek is. Terwyl jy nederig probeer om jou leierskapgeleenthede só te benut dat dit die goeie in ander uitbring, mag jy God se koninkryk sien kom en sy wil sien geskied.
About this Plan
Ons is geroep om te lei soos Jesus gedoen het. Leierskap begin by ’n persoon, nie ’n posisie nie, en leiers is daar om God se mense te help om sy doel met hulle te bereik. Hierdie daaglikse leesplan sal stewige leierskapfondamente by jou lê, en jou herinner dat jy eerstens ’n geliefde kind van God is, daarna ’n dienaar en eers dan ’n leier.
More