Lydenstydgids: In die Skadu van GetsemaneSample
Hoe om hierdie gids te gebruik
Elke tema sal jou begelei met:
- 'n Gedig – aan die begin van elke week is daar ‘n gedig wat verband hou met die inhoud. Gebruik dit om jou gedagtes te fokus en jou hart voor te berei vir die woorde wat jy daardie week gaan lees en die ervaringe wat jy met Jesus gaan deel.
- 'n Gedagte – daagliks word jy met ‘n kort oordenking en Skrifgedeelte begelei. Begeleidende vrae in elke oordenking kan jou help om in kontak te kom met jou innerlike wêreld. Watter emosie, gedagte, beeld kom by jou op as jy dink aan die woord van die dag en die vrae wat aan jou gestel is? Reageer op die uitnodigings deur te deel in die daaglikse oefening wat gegee word.
- 'n Gebed – ‘n kort gebed word daagliks verskaf. Gebruik hierdie gebed deur die loop van die dag om jou te herinner aan die dag se woorde en ervaring. Herhaal die gebed ‘n paar keer terwyl jy jou daaglikse gang gaan.
- 'n Oordenking – aan die einde van elke week word jy begelei om oor die inhoud en belewenis van die week wat verby is te dink. Gebruik die oordenkingsgebed om jou Lydenstydervaring te verdiep.
Pyn
Pyn was amper vergeet
Ek voel dit weer
Raak U my aan
hier agter oor my niere
daar's iets daar —
Vryf oor my hart
Vat my klam hande
Nie dat U die moet genees nie —
Net stadig met my saamloop, Heer.
En laat ek pynlik vrolik wees
en pyn sover ek kan vergeet
en waarlik vry wees;
U-in-pyn liefhê,
Versink in U
God, gees in Gees
I.L de Villiers (1975)
**Die gedig sê iets van ons menslikheid en die bewegings tussen die ontkenning en erkenning van ons pyn en gebrokenheid. Die gedig nooi ons om ons aardsheid te aanvaar, nie as ‘n daad van tou opgooi of oorgee aan hopeloosheid nie, maar eerder as intree in ‘n ander manier van wees saam met God. Ons gees vind net lewe in sy Gees — in daardie "asem-inblaas" oomblikke, daagliks. Soos ons onsself versink in Hom, kom ons agter dat selfs in die donkerste, angstige oomblikke, ons nie alleen is nie.
Pyn was amper vergete
Stof is jy, en jy sal weer stof word – Genesis 3:19 (AFR83)
Vir die volgende 40 dae onderneem ons `n reis. Op hierdie reis is ons genooi om spesifiek tyd in te ruim en toe te laat dat ons verbeelding aangegryp word deur Jesus se lyding op aarde. Ons verbeel ons ons is daar waar Hy was, en ons vra die Heilige Gees om ons harte opnuut aan te raak en ons sodoende nader aan die lydende Jesus kan kom. Ons vra vir die genade om saam met Hom te huil op pad na die kruis.
Vroeg in die kerk se geskiedenis het Christene die 40 dae voor Paassondag gebruik om hulle geestelik voor te berei vir die herdenking van die groot gebeure van Jesus se kruisiging en opstanding. Tradisioneel is dit ‘n tyd van opoffering, om iets van Jesus se swaarkry aan ons eie lyf te voel. Baie Christene weerhou hulle in hierdie voorbereidingstyd van sekere dinge — soos vleis, suiker of sosiale media — as simbool van opoffering.
Die eerste dag van die Lydenstyd word Aswoensdag genoem. Op hierdie dag – aan die begin van ons 40 dae voorbereiding vir Paasnaweek – dink ons aan ons eie verganklikheid. In baie kerke is dit die gebruik om op Aswoensdag `n kol of kruisie met op jou voorkop aan te bring. Die as word gewoonlik gemaak van die palmtakke van die vorige jaar se Palmsondag. Dus, van “Hosanna!” (palmtakke) na “Kruisig Hom!”
Ons hou nie daarvan om herinner te word aan ons eie verganklikheid nie. Om die waarheid te sê, ons kry dit elke nou en dan amper reg om, soos die gedig ook sê, ons verganklikheid en pyn van menswees te vergeet. Ons wil dikwels graag ontken dat dit deel is van wie ons is. Tog, al onderdruk ons dit of probeer ons daarvan vergeet, leef ons elke dag daarmee saam. Ons is broos en kwesbaar. Aan die einde van die Bybel se skeppingsverhaal staan daar:
Stof is jy, en jy sal weer stof word – Genesis 3:19 AFR83
Gaan skep jou tuingrond met jou hande. Voel die tekstuur. Is die grond warm of koel? Ruik aan die grond in jou hande. Kyk hoe dit deur jou vingers grond toe val en hoe die stof dalk nog in jou hande agterbly. Herinner jouself dat jy stof is, deel van die aarde. Jy is gemaak uit iets. Jy is lewe gegee deur God se asem, deur sy Gees wat in jou neusgate geblaas is.
Watter emosie kom by jou op as jy aan jou aardsheid dink?
Verbeel jou jy sien God se gesigsuitdrukking en luister na sy stemtoon terwyl Hy vir jou sê: “Stof is jy, en jy sal weer stof word … ” Wat dink jy kommunikeer God deur hierdie woorde aan jou?
Watter kwesbaarheid wil jy nou voor God bring?
Gebed: Ek vra vir ‘n diep bewussyn van u liefde en werk in my lewe.
Scripture
About this Plan
Met hierdie Lydenstydreis bring ons 40 dae in Getsemane deur — daar in die tuin waar Jesus angsbevange by sy Vader pleit en in gesprek met God tree.
More