YouVersion Logo
Search Icon

Spreuke – eenjaarleesplanSample

Spreuke – eenjaarleesplan

DAY 283 OF 365

Die tweede bundel in die boek van spreuke van Salomo – Spreuke 25-29 – is lank ná sy tyd versamel en geredigeer deur koning Hiskia se amptenare, soos Spreuke hier vir ons inlig. Dis ongeveer 2 eeue na Salomo in die 8ste eeu v.C. Hiskia het geregeer van 716-687 v.C.

Die woord vir "opgeteken" in Spreuke 25:1, kan ook met "georden" vertaal word, wat waarskynlik beteken dat ‘n klomp losstaande spreuke wat aan Salomo toegeskryf is in rubrieke of volgens onderwerpe ingedeel is. Hierdie bundel van vyf hoofstukke werk veral met twee soorte spreuke:

komplementerende sinteses wat dieselfde gedagte versterk (“Wie ’n ander voorspoed gun, sal self oorvloed hê. Wie die dors van ander les, sal self genoeg kry as hy dors is.” – Spreuke 25:11), en

aanvullende sinteses waar die tweede stelling die eerste stelling aanvul, uitbou of afrond (“Miswolke en wind, maar geen reën nie, so is iemand wat spog met wat hy sal gee en dit nooit gee nie” – Spreuke 25:14).

Spreuke 25:1-28 bevat 9 temas oor wysheid wat saamgevat word onder die oorhoofse tema: "Wyse mense tree met oorleg op." Dit sal in hoofstuk 26 gekontrasteer word met 14 temas oor dwaasheid.

Vers 1 is natuurlik die inleiding tot die vyf hoofstukke. Dis treffend hoe die reeks spreuke in hierdie hoofstuk versigtigheid, nadenke, selfbeheersing en emosionele volwassenheid aanprys. Dit laat mens dink aan die idioom: "om te dink voordat jy doen."

Tema 1 – Wees versigtig vir konings

In die eerste sewe verse het ons spreuke wat die aura en misterie van konings beskryf om mense te waarsku om baie versigtig met konings om te gaan:

Vers 2: Konings het eerstens – ideaal gesproke – 'n ondersoekende geaardheid. Dit is positief. Hulle word nie maklik geflous nie.

Vers 3: Konings het egter tweedens misterieuse en onpeilbare gedagtes. Jy moet sorg dat jy nie deur hulle geflous word nie.

Vers 4 en 5: In die derde plek is konings feilbaar in die geselskap van goddeloses. Kyk dus goed wie die mense is waarmee die koning homself omring, of wie die mense is wat die koning se aandag probeer trek.

Day 282Day 284

About this Plan

Spreuke – eenjaarleesplan

Lees die boek Spreuke in 365 dae deur met hierdie leesplan. Daar is ’n spreuk vir elke dag met ‘n kort beskrywing van die betekenis daarvan. So sal jy ‘n goudmyn van Godgegewe slagspreuke vir jou eie persoonlike lewe ontdek. Dit is ook ‘n uiters geskikte bron vir ouers of opvoeders om as vertrekpunt in hulle onderrig en opvoeding te gebruik. Geniet dit!

More