Koeke en terteSample
Rotskoekies
Rotskoekies is die strak vroue van ons samelewing met die lang wysvingers en die harde rotse vir harte. Ek koes sommer wanneer ek ’n Rotskoekie gewaar. Hulle is die oorywerige en kritiese vroue onder ons. Rotskoekies het gewoonlik ’n baie beperkte verwysingsraamwerk en humorsin.
Hierdie vroue word gekenmerk deur die diep beswaarde uitdrukking op hulle gesigte, asof hulle so pas in iets getrap het wat vrek sleg ruik. Hulle neem die lewe – en veral hulleself en hulle onwrikbare standpunte – baie, baie ernstig op. Rotskoekies speel graag ongevraagd regter.
Rotskoekies is altyd kuis en dienlik aangetrek – van die sykouse tot die hoed. Grimering is beperk tot Sunlight-seep. Lipice is wel toelaatbaar in die winter. Hierdie erg konserwatiewe en godsdienstige vroue glo daarin om die wet te gehoorsaam. Hulle is altyd gereed om die strydbyl op te neem en alles tot op die been oop te kloof wanneer dit kom by die korrekte uitvoering van die wet.
Hierdie kritiese geeste glo werklik hulle doen net goeie werk en goeie dade vir die koninkryk. Hulle gaan getrou kerk toe, biduur toe, selgroep toe en is tevrede met hulle geloofspad, maar nie ontvanklik vir enige ander manier van dink nie. Hulle beskou hulleself as soet kerkkoekies wat die oorlewerings uit die verlede tot in die fynste besonderhede onderhou, nes die Woord vir ons voorskryf.
Ongelukkig is daar een bestanddeel wat God vir ons álmal voorskryf wat hulle gereeld uitlaat: naasteliefde.
Saulus was ’n manlike Rotskoekie. Hy het almal wat nie soos hý gedink het nie, vervolg. Sy rotsagtige ego was in die pad van die vernuwingswerk wat God in hom wou doen. Sy hoogmoed en selfregverdiging het hom geestelik verblind om God se stem van waarheid te hoor. Eers toe Saulus besef sy regte manier van doen is totaal strydig met die Here se regte manier van doen, het sy liggaamlike én geestelike oë oopgegaan. Daarna kon Paulus hom beywer om brûe van vrede te bou met die klippe wat hy voorheen gebruik het om mense mee seer te maak.
Ek glo ons elkeen het ’n kritiese streek iewers in ons, veral teenoor sekere soorte mense. Ek het beslis. Wanneer ons bewus raak van ons kritiese Rotskoekie-gesindheid en ons geestelike hoogmoed en dit erken, kan ons met die Here se hulp groei in nederigheid en naasteliefde, ook teenoor dié mense vir wie ons min ooghare het.
Hou dus goeie moed. My kritiese gesindheid teenoor sommige gelowiges het al baie minder geword namate ek op my geloofsreis vorder.
Hoe? Deur te besef dat die Here se genade groter is as my (en jou) grootste sonde. Ek het my hart oopgestel en gebid dat Hy al meer van sy genade in my hart sal inwerk sodat ek dit kan uitdeel aan ander – ook aan dié van wie ek nie van nature hou nie. Ons kan immers net uitdeel wat ons self in ons harte het.
Wanneer ek nou deurloop onder ’n Rotskoekie se klippe, gooi ek nie klippe terug soos jare gelede nie. Ek verdedig of regverdig ook nie meer myself nie. Ek verkies om in liefde van ander te verskil, soos die Here dit van sy ambassadeurs vra. Die opdrag van die Here bly deurgaans dieselfde aan sy kinders: Behandel almal – ook jou vyande – met liefde en genade. En bid vir hulle.
Stilwordtyd by God vir Rotskoekies
· Lees die Bybelgedeeltes hierbo in afsondering en met jou volle aandag deur. Jy is welkom om ook ander Bybelgedeeltes saam met hierdie te lees en oordink. Wanneer jy die gedeeltes klaar aandagtig gelees het, vra jou af:
o Wat het my getref? Bid daaroor.
o Luister dan in stilte en met ’n oop hart na God se aanwysings vir groei in jou lewe. Luister vir antwoorde op moontlike vrae soos:
o Hoe kan ek my bestaande resep verbeter? Wat moet uit? Watter nuwe bestanddele kan in?
o Wat keer dat ek ’n deurbraak beleef?
o Hoe kan ek my hart, teenoor myself én my medemens, prakties verruim?
About this Plan
Vir mense wat vir hulself kan lag. Susan Coetzer takel ernstige onderwerpe soos dat jy as vrou goed genoeg is, jy nie so hard op jouself moet wees nie en jy is genoeg vir God net soos jy is. Sy help jou om jouself en ander te leer waardeer.
More