YouVersion Logo
Search Icon

100 dae van dankbaarheidSample

100 dae van dankbaarheid

DAY 3 OF 7

  

Terug kyk

Die Here vra van ons om dankbaar te wees. Dis ’n ingesteldheid wat jy kan kweek, en dit begin by ’n dissipline wat jy toepas. Later word dit ’n gewoonte, iets wat sommer vanself kom. ’n Praktiese manier om dié gewoonte aan te kweek, is deur ’n praktyk wat die vroeë Christene toegepas het, naamlik “’n terugblik op die dag wat verby is”.

Dis eenvoudig. En dis ’n maklike manier om te begin om dankbaarheid as ’n gewoonte te ontwikkel. Soms is ’n mens ná ’n lang dag te moeg om te bid, soms sukkel jy selfs om aan die slaap te raak. Maar hierdie “terug kyk”-dissipline help om jou rustig te stem vir droomland, en dit bied jou ’n gulde kans om dankbaarheid ’n lewenswyse te maak.

“’n Terugblik op die dag wat verby is”, is net wat dit sê: Wanneer jy in jou bed lê, herroep jy die dag se gebeure voordat jy aan die slaap raak. Jy dink aan hoe jy gereageer het, aan die mense met wie jy in aanraking was, aan die gedagtes en emosies waarvan jy bewus geword het.

Jy fokus veral ook op alles waarvoor jy vir die Here kan dankie sê. Byvoorbeeld: Was daar iemand wat vriendelik met jou was; mense wat jou met ’n taak gehelp het?

Het die Here jou die geleentheid gegee om goed te wees vir iemand anders; kon jy sy liefde aan iemand bewys? Kon jy deur die loop van die dag God se hand in jou lewe raaksien?

Hierdie terugblik op die dag word gouer as wat jy dink ’n gewoonte. Dit ontwikkel ook tot die ideale geleentheid om die Here vir spesifieke dinge te dank. Jy kan dalk ook begin om soos Dawid te sê: “Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie” (Ps 103:2).

GEBED: Here, dankie dat U elke dag by my is. Help my om u hand in my lewe raak te sien.


Scripture

Day 2Day 4

About this Plan

100 dae van dankbaarheid

Mense wat dankbaar is, is gelukkiger, slaap beter, fokus beter en is makliker om mee oor die weg te kom. Om meer dankbaar te leef is seker iets waarna ons almal streef. Ons leer hoe ons elke dag dankbaar kan wees, waarvoor ons dankbaar kan wees en hoe om in dankbaarheid te leef.

More