Die Feestye van die HereSample
DIE VERVULLING VAN DIE JOODSE FEESTE
Die volgende vraag rakende die feeste kan gevra word: Moet die feeste letterlik of geestelik verklaar word, of gedeeltelik letterlik en gedeeltelik geestelik? Die sleutel om die feeste te verstaan, is die kruis van Jesus Christus en Sy afgehandelde werk op Golgota, in verhouding tot die Ou Testament en in die vervulling daarvan.
Onder die Ou Mosaïse Verbond het alles rakende die feeste ‘n historiese en letterlike vervulling gehad. Die feeste was gehou op spesifieke dae, met letterlike diere-offerandes en fisiese seremonies.
Toe Jesus Christus kom het Hy in Homself alles vervul – Histories, Persoonlik en Antitiperend. Hy het alles vervul, en deur dit te vervul, dit tot niet gemaak, dit uitgedelg (Kol 2:14).
Dit is belangrik om daarop te let dat die feeste hul begin en oorsprong by die Here het, en nie by die kinders van Israel nie. Dit was God se begeerte om met Sy mense te ontmoet, op Sy terme en op Sy gronde en Sy voorwaardes!
Die feeste was net vir die Joodse volk gegee. Geen heidense nasie mag daarin gedeel het nie. Die enigste wyse waarop ‘n nie-Jood daarin kon deel was as hulle proseliete sou word (d.w.s. oorgehaal was tot die Joodse geloof, Judaïsme). Daarom beveel God dat as iemand deel wil hê, moet hulle besny word (Eks 12:43-48). Dit was deel van die Abrahamse verbond (Gen 17:1-14, veral vers 12-13), en het hulle gebring in verbonds -verhouding met God en so was hulle geregtig op die beloftes en voorregte van so ‘n verbond.
Wat ons in gedagte moet hou is dat die feeste in die eerste plek aan die Israeliete voorgeskryf was sodat hulle deur fisiese praktyke en rituele, geestelike waarhede kon leer aangaande hulle verhouding met God.
Die feeste het nie soseer gegaan om te eet en drink en die gepaardgaande genietinge nie. Dit was eerder godsdienstige byeenkomste om met God te ontmoet op ‘n baie spesiale wyse, en daardeur seën te ontvang soos God belowe het. Hierdie feeste moes hulle deurgaans op hulle Messias wys. Hy sou die oorgang wees van die fisiese na die geestelike.
Gelowiges onder die Nuwe Testament behoort bekend te wees met die Hebreeuse rituele en die geestelike waarhede wat daarin uitgebeeld word en hoe al hierdie feeste en waarhede in vervulling gegaan het in Jesus Christus, die Seun van God. Noudat Jesus Christus, die Messias, gekom het, is dit nie meer nodig om God te soek deur middel van godsdienstige rituele (feeste) nie, want ons het direkte toegang tot God deur Jesus Christus (Joh 14:6; Heb 10:19-22; Ef 2:11-18).
Met hierdie feeste van Israel sien ons die ewige bedoelinge van God in Jesus Christus, sy Seun. Mag God gee dat terwyl ons die feeste bestudeer, dit ons sal lei om met ‘n heldere begrip en dieper, ootmoediger aanbidding saam met die apostel Paulus te verklaar: "Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus" (Ef 1:3).
Die apostel Paulus is van mening in 1 Korinthiërs 5:7-8 “Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees – soos julle inderdaad ongesuurd is – want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid”. Daarom is die Christelike lewe ‘n fees in Jesus Christus. Die gelowige onderhou die feeste deur te wandel in reinheid en waarheid in Christus Jesus.
Vir meer inligting en studies oor die boeke van die Bybel, besoek Raymond Lombard Ministries
About this Plan
Ons lees in die boek Levitikus dat die Here met Moses gespreek het rakende die heilige samekomste: “Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: Die feestye van die HERE wat julle moet uitroep as heilige samekomste – dit is my feestye” (Lev 23:2). In hierdie plan kyk ons na die feestye wat God se heilige samekomste is waartydens die mense gerus en fees gevier het.
More